Hoërskool Nelspruit-leerder slaan rol in kortfilm los
'n Gr. 11-leerder van NHS is eersdaags in 'n kykNET-kortfilm te sien.
Mické Botes, ‘n gr. 11-leerder van Hoërskool Nelspruit, het die afgelope vakansie die geleentheid gehad om saam met bekende akteurs ‘n kykNET-kortfilm op te neem, in samewerking met ABS Productions.
Mické vertolk die rol van Karlien in die film Ek is nie Juliet nie.
Die regie is waargeneem deur die akteur Izak Davel.
LEES OOK: Innibos-verhoogstukke: Só word jong akteurs oud vir ‘n rol
Dié kortfilm sal later vanjaar op kykNET te sien wees.

‘n Bekende aktrise wat hierin speel is Angelique Gerber.
Een van die ander akteurs in die film het haar eie liedjie gekomponeer en gesing; sy het Mické gevra om ‘n dans te choreografeer, en dit sal in die film te sien wees.

Die skool het dié nuus op sy Facebook-blad gedeel. Mické sê die ervaring en veral die choreografie was vir haar ‘n heerlike verrassing en dit was ‘n groot voorreg om deel van die filmspan te wees.
