Local news

‘Vuil’ diesel berokken glo miljoene se skade aan enjins

Sommige boere en sakemanne van die Onderberg het eise vir herstelwerk teen 'n dieselhandelaar ingedien nadat hulle glo onsuiwer diesel by hom gekoop het, wat na bewering miljoene rande se skade aan van hulle vragmotors en bakkies veroorsaak het.

Boere, sakemanne en vervoerkontrakteurs het die afgelope maande miljoene rande se skade gely nadat hulle voertuie se enjins onklaar geraak het.

Deskundiges en werktuigkundiges het vasgestel dat die skade aan die dieselenjins hoogs waarskynlik deur ‘vuil’ diesel veroorsaak is.

Verskeie voertuigeienaars wat skade gely het, en wat verkies om anoniem te bly, het beweer dat hulle probleme begin het nadat die grootmaatdieselverskaffer, Lebombo Agri Petroleum (LAP), aan die einde van 2022 brandstof van ‘n nuwe dieselverskaffer begin aankoop het.

LEES OOK: Runners amped to conquer the Elands Marathon

Die LAP-depot is by die Lebombo Border Dry Port naby Komatipoort geleë. Beide die sake behoort aan die bekende Onderbergse sakeman, Piet van Dyk. Sommige eienaars van dieselvragmotors en landbouvoertuie het reeds jare lank brandstof by LAP gekoop.

“Die eerste keer toe ons hoor LAP het van verskaffer verander was toe een van my bakkies opgepak het. Die werktuigkundiges het ontdek daar is buitengewone groot hoeveelhede koolstofneerslag in die enjins se onderdele en brandstofinspuiters. Die tipe neerslag word deur ‘vuil’ of ongesuiwerde diesel veroorsaak,” vertel die Onderbergse boer.

Die enjin het glo soveel skade opgedoen dat dit teen bykans R200 000 vervang moes word. Kort daarna het die bakkie egter ook die gees gegee, en het hy hom uit die hand verkoop om ‘n nuwe voertuig aan te skaf.

Normaalweg word diesel van 10dpm (dele per miljoen) of 50dpm in die handel vir dieselvoertuie gebruik.

LEES OOK: Hoërskool Nelspruit-leerder slaan rol in kortfilm los

‘n Vragmotorkontrakteur wat minerale na Mosambiek uitvoer, sê twee van sy vragmotors, ‘n Volvo en Scania, se enjins moes beide ook vervang word. Dit het hom glo tussen R3m en R4m per enjin gekos.

‘n Ander kontrakteur sê verskeie beswaardes het wel met Van Dyk in gesprek getree, maar dat dit nie juis vrugte afgewerp het nie. Hulle het uiteindelik eise vir die herstelwerk teen LAP ingedien.

Van Dyk het die week aan Laevelder bevestig eise is teen hom ingedien, en dat dit alles deur sy versekeraars, Hollard, hanteer word.

LEES OOK: Mbombela has its own Masters golf tournament

Van die geskrewe vrae wat hy geweier het om te antwoord, was:
• U het glo lank dieselvoorraad by Sasol aangekoop. Kan u dit bevestig?
• In Desember het u glo van ‘n nuwe groothandelaar diesel begin aankoop. Wie is die verskaffer? En waar kry hulle hul voorraad vandaan?
• Wat is die dpm van die nuwe diesel wat u verskaf?
• Hoe verseker LAP dat hulle diesel suiwer is?
• Hoeveel klagtes het u van verbruikers ontvang?
• Doen LAP toetse om te verseker hulle brandstof is op standaard?
• U het na bewering met doeane en aksyns onderhandel om die 35 tenkers met smokkeldiesel waarop hulle beslag gelê het, by hulle te koop. Kan u dit bevestig of ontken?

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button