Lila Swift bied ontvlugting met debuutenkelsnit
Breek weg en laat die werklikheid agter met dié nuwe countrypopliedjie.

Soms is ontvlugting van die werklikheid so nodig soos om ‘n gap-jaar ná jou matriekjaar te neem, selfs al is dit net in jou kop.
Só vertel die opkomende kunstenaar en plaaslike Laeveld-ster, Lila (ofte wel Lonita) Swift, oor haar splinternuwe enkelsnit getiteld “Gap-Jaar”.
Lila sê toe sy met ‘n konsep vir die liedjie begin speel het, was die idee van ‘n gap-jaar, soos baie mense direk ná matriek neem, een van die eerstes wat by haar opgekom het. Die idee het egter vinnig gevorder na iets met ‘n dieper betekenis waarmee elke mens van jonk tot oud tog op ‘n manier hulself mee kan vereenselwig.
LEES OOK: Uplands and Penryn derby: always a classic clash!
“Gap-Jaar” is ‘n countrypopliedjie en handel oor die gevoel wanneer alles te veel raak en jy net wil wegbreek en die werklikheid vir ‘n oomblik agterlaat. Die liedjie spreek veral tot iemand wat wil vlug na ‘n plek waar jy nie hoef omgee oor probleme of moeilike situasies nie.
“‘Gap-Jaar’ kan ook tot iemand spreek wat bloot wil wegbreek na ‘n rowwe paar jaar se harde werk – iewers voel ‘n mens jy het ‘n breek nodig, en hoekom dan nie net een vat nie? Jy lewe tog net een keer! Môre is dalk te laat…” sê Lila. “Ek wou die jaar nadat ek matriek geskryf het, net begin swot, en toe gebeur Covid. Dit het my eintlik gedwing om maar ‘n jaar af te neem.”
Die liedjie moet soos ‘n vakansie voel, sê sy.
“Gap-Jaar” is deur die bekroonde Murray Lubbe vervaardig. Lubbe is ‘n bekende musiekvervaardiger wat ook al verantwoordelik was vir treffers deur Steve Hofmeyr, Bok van Blerk, Jo Black, Ruhan du Toit, Gerhard Steyn en Appel.
LEES OOK: Woelwaters hou minisportdag by Laerskool Nelspruit
“Ek hoop dat mense dit as pret sal ervaar, net soos al die pret wat ons sover hiermee gehad het – van die skryf tot die opneem, tot die maak van die musiekvideo.”
Die video is deur Eric T. Graham en Tehan Buys by die TO Strandoord in Port Edward geskiet. Dit handel oor ‘n algemene situasie van vriendinne wat moeg gewerk en moeg gesukkel is, en die geleentheid vir ‘n breek met alles aan te gryp. Lila se vriendinne, Bianca Meyer en Denica Taljaard, is ook hierin te sien.
LEES OOK: Mpumalanga records slight improvement in water levels
“Dit is anders as die gewone video’s, omdat almal in die regte lewe ook vriendinne is. ‘n Mens kan sien dat dit pret tussen regte vriende was!”
Fafa van FDKstyling het die hare, grimering en stilering behartig, en maak self ‘n verskyning op die video.
Lila sê sy is oopkop as kunstenaar en beplan nie te ver vooruit nie, aangesien sy al geleer het hoe gou die lewe kan verander.
“Wat wel belangrik is, is om altyd te doen wat jou gelukkig maak, dan is alle suksesse – klein of groot – net nóg meer die moeite werd!”
Volgens dié sanger was dit ‘n ongelooflike ervaring om die span wat saam met haar aan “Gap-Jaar” gewerk het, te leer ken. “Mense wat bereid was om saam met my as ‘n totale nuweling iets heeltemal onbekend aan te pak en te sien waar dit sal eindig. Ek is mal oor die reis.”
