Jukskei is in dié Laevelder se bloed
Die jong jukskei ster bewys dat dié sport nie net vir oumense is nie.

Jukskei is so eg Suid-Afrikaans soos jy kan kry.
Dit is al vir 270 jaar deel van die Suid-Afrikaner-kultuur, en is die enigste inheemse sport wat selfs op internasionale vlak gespeel word.
Nicholis Stoltz, ‘n gr. 10-leerder van Hoërskool Nelspruit, het in Desember as 15-jarige reeds die Mpumalanga se o. 19-akademiespan tydens die Suid-Afrikaanse Junior Jukskeikampioenskappe in Kroonstad verteenwoordig, waar hy en sy span ‘n brons medalje verower het.
LEES OOK: Lush greens and light-up golf balls at Sabie business chamber’s golf day
Spelers van so ver as Secunda, Ogies, Morgenzon, Middelburg en eMalahleni het teen mekaar in die Mpumalanga Juniorskoleliga meegeding om na hierdie byeenkoms deur te dring.
Hierdie kranige speler is Saterdag, 27 Mei, tydens die Mpumalanga Jukskeifederasie se jaarlikse spoggeleentheid en jaareindfunksie in Middelburg, as die federasie se sportseun van die jaar aangewys.
Ten spyte van wat die algemene konnotasie aan dié sportsoort is, is Nicholis ‘n bewys dat jukskei beslis nie net meer vir oumense is nie!
LEES OOK: Dubbele moord by Eggo-grotte, verdagtes steeds op vrye voet
Die jong sportster se droom is om jukskei in die Laeveld te bevorder. Hy nooi dus enige belangstellendes, oud en jonk, uit om saam met hom aan hierdie eg Suid-Afrikaanse sport deel te neem.
Niekie Coetzee, die president van Mpumalanga Jukskei, het om Nicholis in sy droom te ondersteun, twee bane by Hoërskool Rob Ferreira in Witrivier laat aanbring. Dit is hier waar Nicholis gereeld oor naweke sy tyd deurbring.
Hierdie bane is ook daargestel om jukskei in die Laeveld weer op die been te bring.
LEES OOK: The Sunbirds remain undefeated in Telkom Netball League
Tans is daar ongeveer 3 000 geregistreerde junior deelnemers en sowat 1 080 senior spelers wat in Suid-Afrika hieraan deelneem.
Sou jy belangstel of navraag wil doen om deel te kan wees, skakel Coetzee by 082 892 9900.
