Legende in Laeveldse versekeringsindustrie tree af
George du Toit van die Laeveldse Versekeringmakelaars het ná 51 jaar se diens aan die Laeveld afgetree.
Wanneer dit by Laeveldse Versekeringmakelaars (LVM) kom, het die naam George du Toit geen bekendstelling nodig nie.
Daar is onlangs tydens ‘n funksie saam met sy naaste vriende en vennote van hom afskeid geneem. Du Toit was vir 60 jaar lank in versekering, en diens die Laeveld 51 jaar daarvan. Nou lê hy op die ouderdom van 79 die tuig neer.
Hy word as iemand met integriteit en ‘n onberispelike karakter beskryf. Vandag is sy nalatenskap LVM, een van die grootste onafhanklike makelaars-huise in die land met ‘n personeel-aanwins van 45, wat dienste aan kliënte regoor Suid-Afrika verskaf.
ALSO READ: Larger-than-life Lowvelder, Dirk van Rooyen, remembered
Hy was ook op sy dag ‘n kranige sportman wat veral vir etlike jare muurbal, krieket en gholf gespeel het; op die gholfbaan ding hy steeds mee!
Du Toit was nou by die administrasie van muurbal en krieket betrokke, maar veral krieket, waar hy die Suid-Afrikaanse Plattelandse Krieketspan bestuur het en ook ‘n provinsiale skeidsregter was.
Sy loopbaan het in 1964 ná sy militêre opleiding begin. Daardie jaar het hy by Rondalia Pretoria as versekeringsklerk aangesluit.
In 1967 maak Santam hom ‘n aanbod wat hy aanvaar, en word hy in Pretoria ‘n inspekteur. Hierna het ‘n aantal verplasings gevolg, wat hom in 1971 in Nelspruit laat land het.
”In 1974 besluit ek om by ‘n vriend in ‘n eenmansaak in Nelspruit aan te sluit – die onderneming word as Laeveldse Versekeringsmakelaars bedryf.”
In 1983 kwalifiseer hy as ‘n genoot van die Geoktrooieerde Versekeringsinstituut in Londen. Du Toit en sy vriend het die maatskappy in die Laeveld uitgebou, en ná die vriend se aftrede neem hy die leisels oor. ”Met die amalgamasie van die Absa-groep in 1990 begin hulle met ons gesels, en ons besluit om in 1992 aan Absa te verkoop. Ons handel nou as Absa-versekeringsmakelaars en ek word as die streekshoof in versekering in Mpumalanga aangestel.”
ALSO READ: Amore se Griekse tragedie vermaak iedereen in Mbombela
Bo en behalwe sy bestuurstake, het hy steeds kontak met sy kliënte in die Laeveld behou. ”Nadat ek my handelsbeperking in 1998 uitgedien het, besluit ek die korporatiewe wêreld staan my nie aan nie. Ek verlaat Absa met twee personeellede saam en stig op 1 April 1998 LVM Versekeringsmakelaars. Natuurlik bring ek weer die grootste gros van my kliënte saam en ons maak vanaf maand twee wins.”
Mettertyd is Du Toit se seun saam met nog ‘n jong man betrek. Hulle groei met reuseskrede, en in 2008 begin die jong manne jeuk, en hulle kom ooreen dat hulle Du Toit se aandele sal begin oorneem. ”In 2012, nadat al die aandele deur hulle opgeneem is, bly ek werk, maar op ‘n basis van vergoeding op premies wat ek hanteer.”
“Ek rig ook nou vir my ‘n kantoor in my huis in, en op 31 Maart 2023 het ek finaal die juk neergelê.”
