NHS domineer by Mpumalanga se skolenetbalkampioenskappe in Mbombela
Die kampioenskappe het gesorg vir naelbytwedstryde en talle skitterende oomblikke op die baan.
Die afgelope naweek, 15 tot 17 Junie, is die netbalbane van die Hoër- en Laerskool Nelspruit tydens vanjaar se SPAR Mpumalanga-skolenetbalkampioenskappe omtrent aan die brand gespeel.
Die balle is links en regs onderskep, en het met gemak deur die nette geswiep. Vir elke senterafgooi is daar geveg, en elke minuut is met bloed, sweet en trane belaai.
Om inklusiwiteit in netbal in die provinsie te bevorder, asook regverdige kompetisie tussen skole te verseker, is daar in twee kategorieë om die titel meegeding, naamlik Bathos en Ubuntu.
LEES OOK: Pumas Rugby Institute give Nelspruit Rugby Club a lesson in running rugby
Spanne van skole soos Hoërskool Nelspruit (NHS), Hoër Tegniese Skool (HTS) Middelburg, Hoërskool Secunda, Hoërskool Middelburg, Hoërskool Ermelo, Hoërskool Rob Ferreira, Hoërskool Lydenburg en Curro Nelspruit het aan die Bathos-kategorie deelgeneem.
Nadat die verskillende ouderdomsgroepe in rondomtaliewedstryde teen mekaar kragte gemeet het, is die uitspele behartig.
Uit die vyf A-ligawedstryde, het NHS dit reggekry om as die Mpumalanga-kampioene in vier van die ouderdomsgroepe gekroon
te word.
LEES OOK: Curro-rugby kraai koning by die Mpumalanga Mediumskole rugbyliga!
NHS se o. 14A-span het in hul eindstryd teen Secunda te staan gekom. Na ‘n tawwe stryd het die span van Mbombela met ‘n skrale twee doele die oorhand gehad.
Dieselfde twee skole het teen mekaar in die o. 15-finaal te staan gekom, met NHS wat nogmaals ‘n oorwinning van 13 teenoor 7 behaal het.
Die oorwinnings vir Hoërskool Nelspruit het egter nie hier opgehou nie, en hulle het in die o. 16- en o. 17-uitspele onderskeidelik teen HTS Middelburg en Hoërskool Middelburg te staan gekom. Die o. 16’s het hul opponente met 22-12 oorrompel, terwyl die o. 17’s ook met 28-20 gedomineer het.
LEES OOK: The Pumas are ready for the finals!
Dit was egter die eerstespan-eindstryd wat NHS verhoed het om by die kampioenskappe skoonskip te maak. NHS se Panthers het hul plek in die eindstryd teen Hoërskool Middelburg bespreek deur hul opponente gemaklik in die rondomtaliewedstryde te klop, maar die span van Middelburg het nie teruggestaan nie, en het hul stemme dik gemaak om dié wedstryd met 31 doele teenoor 22 te beklink.
Hoërskool Lydenburg se spanne het top 10-plekke in die o. 14-, o. 15-, o. 16- en o. 19-ouderdomsgroepe behaal, met hul o. 16’s wat derde in Mpumalanga eindig. Die o. 14’s en o. 17’s van Rob Ferreira het onderskeidelik sesde en vierde geëindig, terwyl Curro Nelspruit se o. 19’s ‘n sesde plek in hul ouderdomsgroep losgespeel het.
