Local news

Neil toer al die pad van die Kaap tot hier op jou voorstoep

Die Neil Sandilands Gedoente sal tussen 1 en 25 Julie op toer wees en kom kuier die 13de vir die eerste keer in die Laeveld.

Die bekende akteur en sanger, Neil Sandilands, toer hierdie winter noordwaarts, al die pad van die Wes-Kaap tot in Mpumalanga.

Sandilands het onlangs sy splinternuwe album, Allegaarkie vir ‘n askeet, vrygestel, en is gereed om die noorde met sy rasperstem en kleurvolle storievertelling op horings te neem, in pefekte harmonie met van die mees begaafde musici wat ons land aanbied.

Die Neil Sandilands Gedoente bring van 1 tot 25 Julie instrumente, blikke, baarde en sakke vol truuks na ‘n opstal naby jou.

LEES OOK: Nellies se Hokkiebokkies fokus nou op Noordvaaltoernooi

Die ander musikante op die wavrag is die bekende baskitaarspeler, Schalk Joubert, die kitaarspeler Frank Freeman, en Ronan Skillen op perkussie.

Snitte soos “Huistoe”, “Stilte wat raas” en “Kômmôsêdiesê” speel tans oor die luggolwe, asook “Woestynroos”, wat hy vir die uitmuntende M-Net-reeks, Desert Rose, geskryf het. Al hierdie is treffers in eie reg en vorm deel van Sandilands se uitvoering.

Tussenin die musikale luistervermaak deel hy ook stories en kwinkslae uit sy lewensverhaal, wat langs die mynhope van Randfontein begin het en in ver plekke soos die eiland Kauai, Nieu-Seeland, New York, Vancouver, Sunset Boulevard, die Namibwoestyn en Namakwaland gaan draai het – en ja, sommer nou daar by jou ook!

LEES OOK: Laser-sharp focus during this event a prerequisite

Sy vorige toer, Woorde en Akkoorde na die Noorde, het die gehore gaande gehad en Afrikaanssprekendes wyd en syd het gevra vir nog.

Vra maar vir enigiemand wat al een van dié besonderse vertonings beleef het; dis soos daai tweede koppie sawwelyf. Dit maak inderdaad die lewe ’n bietjie meer draaglik. ’n Mens beleef die hele spektrum van emosies by so ‘n vertoning en voel ietwat ryker vir die belewenis.

Dis presies wat die dokter aanbeveel vir juis hierdie winter van beurtkrag, kranksinnigheid en allerhande aapstreke.

LEES OOK: IN FOTO’S: Die Innibos Jacaranda FM-konsert bied eersteklas ekstase

Sien jou daar by die Neil Sandilands Gedoente se wintertoer.

Beleef Sandilands se storievertelling in ’n opstal naby jou:

• 13 Julie: The Pub, Mbombela, 19:30 – https://qkt.io/1YlNHr
• 14 Julie: Christie’s at 32 on Russell, Mbombela, 19:00 – https://qkt.io/bdJNns
• 15 Julie: Nagkantoor – Kaapsehoop Kuierkroeg, Kaapsehoop, 19:00 – https://qkt.io/neilsandilands-kaapsehoop
• 16 Julie: Greater Kruger Hotel School, Hoedspruit – https://qkt.io/4dF5JX
• 20 Julie: The Sessions Music Café, Dullstroom, 19:00 – https://qkt.io/neilsandilands-dullstroom
• 21 Julie: Rustique Boutique Hotel, Middelburg, 20:00 – https://qkt.io/Gvwjl0.

Neil Sandilands – Die Boer
@thinusmaritz.photography
www.thinusmaritz.com

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button