Local news

Dit gaan beter met Jozua ná skietvoorval in Laeveld-bosbouplantasie

Alhoewel hy nog baie pyn verduur, is Jozua Joubert darem al by die huis na ’n aanval in ’n bosbouplantasie tussen Witrivier en Sabie.

Jozua Joubert, ’n bosboubestuurder wat op 14 Junie in ’n plantasie tussen Witrivier en Sabie aangeval, beroof en geskiet is, is tuis ná dae in die hospitaal.

Sy ma, Amelia, het na afloop van die voorval vertel hoe dit afgespeel het. Jozua het kragsae agter op sy bakkie gehad wat hy na werkers in die bos moes neem. Op pad soontoe het hy op ’n deel van die pad wat deur boomstompe versper was, afgekom, en hy het onraad vermoed.

LEES OOK: Attack in Lowveld plantation puts the spotlight on chainsaw thefts

Aanvallers het op hom begin skiet, en hy is gewond. Die kragsae, sy selfoon en sy beursie is geroof. Hy moes self, ten spyte van die verskriklike pyn, sy weg na die teerpad vind nadat die aanvallers gevlug het, waar ’n kollega hom toe gekry het.

Die koeël het hom in sy linkerkantste skouer getref en is deur sy long. Dit het opgegaan en weer terug, en sit tans half in teen sy nekwerwel vas.

Hy is op 23 Junie uit Mediclinic Nelspruit ontslaan, maar die koeël is nog nie verwyder nie.

Sy ma deel op haar Facebook-bladplasings, waarin sy vriende en geliefdes op hoogte van Jozua se vordering hou. Die nuutste lui só: “Jozua het gister weer die spesialis gesien. Die dokter is sover tevrede, alhoewel hy nog baie pyn verduur. Die steke waar die dreinering in sy longe was, is verwyder, en die koeëlwond is besig om te genees.

LEES OOK: Man steeds in Mediclinic Nelspruit met koeël teen nekwerwel

“Dit gaan tyd vat om te genees, en daar sal oor drie weke weer die nodige scans gedoen word. Vir nou gaan die koeël nie verwyder word nie, omrede dit te groot ’n risiko is. Baie dankie vir almal se gebede, boodskappe en oproepe. Ons waardeer dit ontsettend baie!”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button