Local news

Trekkeravontuur maak kuipstop op Lydenburg

Dr. André Hattingh het Sondag 2 Julie sy eerste kuipstop vir die 2 500 km-reis, by The Heads, gemaak.

Die On Trac-Tor-trekkerreis het vroeër die oggend in Witrivier afgeskop en word vanjaar vir die tweede keer deur Hattingh vir Pediatric Care Africa (PCA) afgelê. Hierdie organisasie sonder winsbejag samel fondse in vir mediese behandeling vir kinders in nood.

Past. TJ Maré, die bekende Mbombela-inwoner, vergesel hom as deel van ‘n 911-motorfietsryer-uitreik.

Nog ‘n doel van hul rit is om die bewusmaking van plaasaanvalle en -moorde te kweek. Maré maak beurte om met sy motorfiets en met ‘n bergfiets agter die trekker aan te ry. Henk Steyn van Mahindra Witrivier, ry saam om die reis op video vas te lê.

Past. TJ Maré, James Language en dr. André Hattingh.

James Language, ‘n bekende boer van die omgewing, het namens die Transvaal Landbou Unie Suid-Afrika (TLU SA) handradio’s aan Hattingh oorhandig. Dit sal die kommunikasie tydens hul trekkeravontuur vergemaklik.

“As boere is ons vertroud met die gevare in afgeleë plekke, en daarom wou ons seker maak die span bly in verbinding en veilig op die pad,” het Hugo Pretorius, die voorsitter van TLU SA se veiligheidskomitee gesê.

Die groep mans gaan deur vyf provinsies reis, wat dorpe soos Thabazimbi, Koster, Hartswater, Winburg, Clarens, Colenso, Vryheid, Dundee en Piet Retief insluit.

Die trekker kom Lydenburg binne via die Longtompas.

Die groot uittog eindig weer op Saterdag 15 Julie in Witrivier. PCA bedank Mahindra Witrivier vir die gebruik van ‘n 86-110 trekker. ‘n Volledige lys borge is ook op die Facebook-blad beskikbaar.

Die publiek word aangemoedig om Hattingh per kilometer wat hy op die trekker ry, te borg, ‘n maandelikse of eenmalige skenking te maak, of diesel vir die rit te koop.

Lesers kan hul reis op PAC se Facebook-blad volg. Alle skenkings kwalifiseer vir ‘n 18A-belastingsertifikaat en kan aan individue of maatskappye uitgereik word. Skakel 076 756 6155 vir meer inligting of besoek www.pediatriccare.org.

Dr. André Hattingh.
Agter: Past. TJ Maré, James Language, dr. André Hattingh. Voor: Henk Steyn. 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button