Lof vir ondersoekbeampte wat Mbombela-rowers tot in Pta vastrek
’n Gesin het die flink optrede van ’n ondersoekbeampte geloof ná hulle deur rowers in Mbombela oorval is.

Die flink speurwerk van ’n vroulike ondersoekbeampte by Absa het daartoe gelei dat drie van die vier verdagtes wat ’n vrou en haar dogter beroof het, binne twee dae vasgetrek is.
Die ma en dogter het op 26 Junie pas ’n aansienlike bedrag geld by die Absa-tak by Crossing getrek, en was op pad na die munisipale satellietkantoor in Riverside.
Hulle het skaars by die kantoortjie ingestap toe twee gemaskerde mans met pistole ingebars en hulle aangehou het. Die mans het voortdurend geskree hulle wou weet waar die geld is wat die twee by die bank getrek het.
LEES OOK: Só word oupa onthou ná ongeluk in Mbombela
Hulle het die verskrikte vroue se handsakke, selfone, beursies, horlosie, hangertjie en trouringe gesteel voor hulle doodluiters by die perseel uitgestap het.
Intussen het ’n derde verdagte glo by die deur wag gestaan en met die sekuriteitswag gepraat.
’n Karwag het die bende onsuksesvol probeer agternasit toe hulle in hulle wit Chery van die parkeerterrein af weggery het.
Die ma vertel die polisie en die sentrum se sekuriteit was binne minute op die toneel.
Tydens die opvolgwerk het die ondersoekbeampte van Absa, ene Maureen, op beeldmateriaal van die bank duidelik een van die verdagtes uitgeken. Die verdagte het rustig op ’n leunstoel in die bank gesit en die vroue dophou terwyl hulle geld trek.
LEES OOK: Uitstalling in Lydenburg verskaf inligting oor heuningbye en die natuur se nektar
Kort voordat hulle die bank verlaat het, is hy daar uit en het hy by sy makkers in hulle Chery aangesluit. Hulle het die vroue glo gevolg tot waar hulle by die munisipale kantoor uitgeklim het.
Betroubare inligting wat Laevelder bekom het, het daarop gedui dat die man op die video deel van ’n bekende roofbende was wat nou al ’n geruime tyd in die Laeveld by misdaad betrokke is. Hulle is glo van Atteridgeville afkomstig.
Maureen het die spoor gevolg en drie van die vier verdagtes in Pretoria vasgetrek.
Hulle het reeds vlugtig in die hof verskyn. Die polisie wou teen die ter perse gaan nie hulle name bekendmaak nie.
Die saak is vir verdere ondersoek uitgestel, en hulle sal oor twee weke in die magistraatshof in Mbombela op klagte van roof en die besit van onwettige vuurwapens verskyn.
Die gesin was vol lof vir die flink optrede van Maureen, en het haar geloof vir haar deursettingsvermoë om die saak enduit te voltrek.
Brig. Selvy Mohlala het die voorval bevestig. ’n Versoek van Laevelder om ’n een-tot-een-gesprek met die ondersoekbeampte te voer, is egter geweier.
Sibongile Makushe-Mazibuko, die stad se burgemeester, het by navraag gesê hulle het kennis van die voorval geneem. “Ons het dadelik ’n ondersoek na die voorval geloods, en het die sekuriteit binne en buite die perseel met nog wagte verskerp,” het sy aan Laevelder gesê.
