Local news

Woelgees in die Witrivier-gemeenskap laat reuseleemte

Pieter Skead sal onthou word as ’n leier in die gemeenskap, ’n geliefde familieman en vir sy indrukwekkende versameling langspeelplate.

“Een van die grootste bome in Witrivier het geval.”

So lees menige van die Facebook-huldeblyke wat instroom ná die nuus dat Pieter (beter bekend as Piet) Skead se liggaam Maandagoggend gevind is.

’n Soektog is op 8 Julie geloods nadat hy omstreeks 17:30 te voet by sy huis weg is en nie weer teruggekeer het nie.

LEES OOK: Om die Australiese rugbyspan te vergesel ’n hoogtepunt in Laeveld-legende Willem du Preez se loopbaan

Na ’n 48 uur lange soektog het lede van die soekgeselskap, onder leiding van Bruce Macaulay, op Skead se lyk in ’n vlei naby die Parkville-vulstasie op Witrivier afgekom.

Daar word beweer dat Skead gegly en geval het, maar ’n ondersoek na sy dood is steeds aanhangig.

Intussen word daar staaltjies en medelye op sosiale media gedeel deur dié wat die voorreg gehad het om Skead te geken het. Dit is veral Skead se toewyding aan sy gemeenskap wat mense nog lank sal bybly.

“Jy was ’n liewe vriend wat altyd op ’n energieke wyse dit wat vir ons gemeenskap saakgemaak het, aangeroer en bevorder het. Jou geduld met en hulp aan ons jong gemeenskapsjoernaliste oor baie jare het ek altyd met groot waardering beleef,” het Marius Bakkes, plaaslike koerantman, in ’n plasing geskryf.

LEES OOK: It’s Christmas in July in the Lowveld

Skead was ook vir baie jare ’n wykraadslid op Witrivier, en het ook op talle ander komitees gedien, waaronder die kerkraad en kinderwelsynskomitee.

“Dit was ’n voorreg om saam met hom te dien,” het Macauley ter nagedagtenis van sy vriend gesê. “Hy was ’n goeie man, pa, eggenoot en gemeenskapsleier, en iemand wat altyd bereid was om sy medemens te help.”

Rowan Torr, raadslid van die Witrivier DA, vertel dat Skead ’n opregte en plat-op-die-aarde-mens was. “Sy passie vir die dorp is iets wat my altyd sal bybly,” het hy gesê, en bygevoeg dat Skead altyd maniere en geleenthede gesoek het om die gemeenskap te verenig.

Pierre du Preez eggo Torr se sentiment, en deel ook dat Skead vasbeslote was om van Witrivier die beste dorp te maak. “Oom Piet was seker die belangrikste en deurslaggewendste persoon op hierdie dorp. Sy invloed was baie wyd en sy wysheid ’n goudmyn van motivering,” vertel Du Preez.

LEES OOK: Laeveldse gholfspeler leef daagliks sy droom van internasionale roem

Skead se dogter, Jacqueline, beskryf ook haar pa as ’n Witrivier-legende. “Hy is nie altyd erken of op die skouer geklop vir sy pogings nie, maar was iemand wat onbaatsugtig vir sy dorp geveg het, iemand wat ure aan aandvergaderings spandeer het, wat selfs sy aandete gelos het om oproepe te antwoord,” vertel sy.

Bo en behalwe sy enorme bydrae tot die gemeenskap, was Skead ook ’n geliefde familieman met ’n groot hart. Sy kleinkinders was sy hart se punt, en sy liefde vir musiek was onmiskenbaar. Skead het ’n indrukwekkende versameling langspeelplate gehad, wat hy liefs sou uithaal en speel vir dié wat wou luister.

Ander woorde wat gebruik word om Skead te beskryf is ‘grapjas’, ‘vrygewig’ en ook ‘godvresend’.

“Van my, Tommie, sy verloofde, Charleine, my ma, die kleinkinders en personeel van Mega Paints, Paint Trend and Trade: cheers, Piet Skead!” het Jacqueline in ’n boodskap gesê.

LEES OOK: Pakistani shop owner murdered in Burgersfort

Die Skead-familie wil ook graag almal wat met die soektog gehelp het vir hulle tyd, deernis en liefde bedank.

’n Privaat roudiens vir slegs nabye familielede sal by die Laeveld Krematorium gehou word. Die datum en tyd sal nog deur die familie bepaal word.

Skead se lewe sal ook deur ’n kuier, waarheen die hele gemeenskap uitgenooi is, gevier word, ’n paar weke ná die roudiens. Besonderhede hieroor sal nog deurgegee word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button