Konstruksie die rede waarom dié Laeveldse leerders nie skool sal kan hervat
Laerskool Laeveld het aan hul personeel, ouers en leerders meegedeel dat nie almal Dinsdag, 18 Julie, met die nuwe kwartaal sal kan begin nie.

Saam met die vooruitsig vir die derde kwartaal van die 2023 -skooljaar wat op 18 Julie gaan afskop, gaan daar slegte nuus gepaard vir die personeel, ouers en leerders van Laerskool Laeveld.
In Januarie vanjaar het Laevelder berig dat die beplande uitbreidingsprojek van Laerskool Laeveld, soos deur die Departement van Onderwys in Mpumalanga gegee, uitendelik weer op dreef is.
Destyds het die woordvoerder van die departement van openbare werke, Bongani Dhlamini, gesê dat die bouprojek gesloer het weens die stadige boutempo en swak gehalte werk wat deur die vorige kontrakteur gelewer is. ’n Nuwe kontrakteur is intussen aangestel en het die projek op 1 Februarie oorgeneem.
LEES OOK: Planned expansion of Laerskool Laeveld to resume by end of January
Volgens Laerskool Laeveld het die Departement van Openbare Werke hulle meegedeel dat, as alles verloop soos beplan, die bouwerk teen 30 September afgehandel sou wees.
Maar dit is nie die geval nie.
Laerskool Laeveld het Vrydag, 14 Julie, ’n verklaring aan sy skoolgemeenskap uitgereik waarin hy alle belanghebbendes van die skool meedeel dat sommige van hul grondslagfaseklasse nie skool toe sal kan terugkeer wanneer die derde kwartaal begin nie.
LEES OOK: New contractors visit building site at Laerskool Laeveld
“Voor die Junie-vakansie begin het, het die hoofagent van die konstruksieprojek wat tans aan die gang is, ‘n regskennisgewing ontvang ingevolge Artikel 12(3) van die Nasionale Bouregulasies & Boustandaarde Wet 103 van 1977. Die kennisgewing het betrekking op die grondslagfase se boustruktuur, wat tekens van gevaar getoon het of lewensgevaarlik geword het volgens ‘n verslag van die Mbombela-brandweer,” het die skool se verklaring gelui.
Die brandweer se verslag het bevestig dat toegang tot ’n noodontsnaproete (brandtrap) gesluit is en besig is om gesloop te word. Die huidige kontrakteurs het ook nie ’n nuwe of alternatiewe ontsnaproete voorsien nie en opdrag gegee om só te doen of andersins die oorspronklike trap te restoureer.
LEES OOK: PCA’s On-Trac-Tor fundraiser yet another success
Die skool het vroeër verlede week ook navraag oor die voltooiingsdatum van die tweede trap gedoen, aangesien die heropening van die skool op hande is. Die hoofagent het Laeveld op 11 Julie meegedeel dat hulle nie aan die wetlike kennisgewing kon voldoen nie. Ruimte-uitdagings is as rede hiervoor aangevoer.
Intussen word heen-en-weer-gesprekke tussen die skool en die departement van onderwys in die provinsie gevoer om hierdie kwessie te probeer oplos. Die skool se bestuurspan, beheerliggaam, kringbestuurder en distrikbestuurder is almal ook druk besig om die saak uit die weg te probeer ruim.
“Ons is werklik hartseer en teleurgesteld oor die huidige stand van sake en wil die Laeveld-gemeenskap gerusstel dat ons alles in ons vermoë doen om ‘n oplossing voor Dinsdag te vind,” lui die verklaring verder.
Die volgende 12 grondslagfase-klasse gaan ongelukkig die begin van die derde kwartaal op 18 Julie moet misloop:
-
Gr. 1:
– Me. Pia van der Spuy
– Me. Roselle Ritson
– Me. Kotie Traut
– Me. Anzel Beattie
– Me. Mandi Botha
-
Gr. 2:
– Me. Ilana van der Merwe
– Me. Miemie Kruger
– Me. Anne Moller
-
Gr. 3:
– Me. Geraldine Barnard
– Me. Evette Riekert (vervang me. Marietjie Green)
– Me. Nicola Steyn
– Me. Mimi-Mari du Plessis


