Local news

Veteraan van Barberton verower goud ná kolskote in Namibië

Sy moes die Namib-koue én ’n taai baan trotseer om met hierdie allemintige prestasie huiswaarts te keer.

’n Laevelder van Barberton, Kobie du Preez, het die afgelope naweek, 8 en 9 Julie, Suid-Afrika by die Afrika Streeksboogskietkampioenskappe (buitemuurs) in Namibië verteenwoordig.

Du Preez het deelnemers van Namibië en Zambië en mede-Suid-Afrikaners uitgestof om met die gesogte goue medalje huiswaarts te keer. Sy het aan die veterane damesafdeling deelgeneem.

Du Preez sê hulle moes nie net die uitdagende baan trotseer nie, maar dat ’n koue front, wat ook net voor die kompetisie sy opwagting gemaak het, gedreig het om die moeilikheidsgraad so effe te verhoog.

LEES OOK: Binnenshuise krieketspeler van die Laeveld gaan SA nasionaal in Doebai verteenwoordig

“Ons het geweet dit gaan koud wees, en dit was vrék koud, baie kouer as wat die minimum temperatuur op die weer-apps getoon het. Die dag voor registrasie is -11ºC in die gebied gemeet, en -6ºC die dag waarop ons begin skiet het. Ons het verskeie lae klere aangetrek. Ek het handskoene en chemiese handverwarmers gebruik om my hande tussen die teikens warm te hou. Gelukkig het die weer teen die laaste dag verbeter, en het ons tone nie meer afgevries nie,” het sy gesê.

“Buiten die koue wat ons moes trotseer, was die baan waarop ons geskiet het, baie uitdagend. Elke skoot was tegnies moeilik, en ’n mens moes regtig konsentreer om goeie punte te behaal. Ek het veral die eerste dag baie gesukkel, en het ’n groot agterstand gehad. Maar ek gee nooit tou op nie, en het die volgende dae baie hard gewerk om in te haal,” het Du Preez gesê.

Die skietafstande tydens die kompetisie het tussen slegs ’n paar voet tot 80 jaart (bykans 74 m) gewissel.

Daar sal eers twee jaar verloop voordat die volgende Afrika-boogskietkampioenskappe sal plaasvind. Die 2025-kompetisie is geskeduleer om in Zambië aangebied te word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button