Local news

OPVOLG: Konstruksieprobleme verhoed steeds skoolbywoning by Laerskool Laeveld

Die grondslagfaseleerders van Laerskool Laeveld sal vir eers nog tuis moet bly, maar dit blyk dat die oprig van ’n tydelike noodtrap dalk die antwoord kan wees.

Laerskool Laeveld het Vrydag, 14 Julie, ’n verklaring aan sy skoolgemeenskap uitgereik waarin hy alle belanghebbendes meedeel dat sommige van sy grondslagfaseklasse nie skool toe sal kan terugkeer wanneer die derde kwartaal begin nie.

“Voor die Junievakansie begin het, het die hoofagent van die konstruksieprojek wat tans aan die gang is, ’n regskennisgewing ontvang ingevolge Artikel 12(3) van die Nasionale Bouregulasies & Boustandaardewet 103 van 1977. Die kennisgewing het betrekking op die grondslagfase se boustruktuur, wat tekens van gevaar getoon het of lewensgevaarlik geword het, volgens ’n verslag van die Mbombela-brandweer,” het die skool se verklaring gelui.

ALSO READ: Binnenshuise krieketspeler van die Laeveld gaan SA nasionaal in Doebai verteenwoordig

Die brandweer se verslag het bevestig dat toegang tot ’n noodontsnaproete (brandtrap) gesluit is en besig is om gesloop te word. Die huidige kontrakteurs het ook nie ’n nuwe of alternatiewe ontsnaproete voorsien nie, en is opdrag gegee om só te doen of andersins om die oorspronklike trap te restoureer.

Die skool het Maandagmiddag, 17 Julie, ’n verdere kennisgewing uitgereik wat aankondig dat die situasie steeds onveranderd is, en dat die 12 betrokke grondslagfaseklasse nie Dinsdag, 18 Julie, sal kan terugkeer skool toe nie.

“Verskeie amptenare van verskillende departemente het die skool besoek om die situasie te evalueer,” het Laeveld in Maandagmiddag se kennisgewing gemeld.

ALSO READ: Konstruksie die rede waarom dié Laeveldse leerders nie skool sal kan hervat

’n Subkontrakteur is intussen deur die departement aangestel om ’n tydelike trap te bou.

In ’n verdere kennisgewing wat 16:00 deur die skool uitgereik is, word daar weergegee dat die planne vir die trap intussen deur die Mbombela-brandweer goedgekeur is en dat die boumateriaal daarvoor ook reeds by die skool afgelaai is.

“Die presiese tyd vir die bou van die trap bly egter onseker,” het die skool laat hoor.

Die volgende opdatering oor die stand van sake word teen 18:00 verwag.

Laevelder sal sy lesers op hoogte hou, soos wat nuwe inligting verkry word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button