Local news

OPVOLG: Laerskool Laeveld se tydelike noodtrappe dalk teen begin van derde kwartaal voltooid

Die nuut aangestelde subkontrakteurs het die tydelike noodtrap by Laerskool Laeveld die middag van 17 Julie begin bou, en hoop om teen 18 Julie klaar met die konstruksie te wees. Intussen kom die Hervormde Kerk Nelspruit se gemeenskap tot die skool se redding.

“Voor die Junievakansie begin het, het die hoofagent van die konstruksieprojek wat tans aan die gang is, ’n regskennisgewing ontvang ingevolge Artikel 12(3) van die Nasionale Bouregulasies & Boustandaardewet 103 van 1977. Die kennisgewing het betrekking op die grondslagfase se boustruktuur, wat tekens van gevaar getoon het of lewensgevaarlik geword het, volgens ’n verslag van die Mbombela-brandweer.”

Só lui die verklaring wat Vrydag, 14 Julie, deur Laerskool Laeveld aan die skoolgemeenskap uitgereik is.

Omdat toegang tot ’n noodontsnaproete (brandtrap) gesluit is en daar nie alternatiewe noodroetes is nie, gaan 12 van dié skool se grondslagfaseklasse nie in hulle skoolbanke kan inskuif sodra die derde kwartaal op 18 Julie begin nie.

LEES OOK: Konstruksie die rede waarom dié Laeveldse leerders nie skool sal kan hervat

“Verskeie amptenare van verskillende departemente het die skool besoek om die situasie te evalueer,” het Laeveld in Maandagmiddag se kennisgewing gemeld.

Intussen is daar al ’n subkontrakteur aangestel om ’n tydelike trap te bou, en die bouplanne hiervoor is ook reeds deur die Mbombela-brandweer goedgekeur.

Die oprigting van die tydelike trap het daardie selfde dag begin en behoort na verwagting teen die aanbreek van die nuwe kwartaal, op 18 Julie, voltooid te wees. ’n Veiligheidsinspeksie word dan vir dié middag beplan.

LEES OOK: OPVOLG: Konstruksieprobleme verhoed steeds skoolbywoning by Laerskool Laeveld

Ten spyte van die flukse vordering om die probleem teen dan te probeer oplos, gaan die 12 klasse steeds nie by die skool kan aanmeld nie.

Die Hervormde Kerk Nelspruit se gemeenste het sy fasiliteite vir Laeveld se personeel en leerders beskikbaar gestel om te gebruik. “Leerders sal van 07:00 tot 13:30 by die kerk gehuisves word waar die onderwyseresse na hulle sal omsien,” het die skool in ’n kennisgewing Maandagaand, 17 Julie, gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button