Premierliga finaal lewer witwarm rugby op
Die Barberton en Witrivier rukbyklubs het mekaar tydens die Laeveld finaal van die Pumas Ehlanzeni Premierliga aangevat. Beide dié spanne gaan hul Hoëveldse eweknieë op 29 Julie ontmoet.

Die Pumas Ehlanzeni Laeveld Premierliga het die naweek van 15 Julie op Coronation Park in Barberton tot ’n einde gekom, maar nié sonder hope emosie, harde rugby en strawwe kompetisie nie.
Nelspruit en Witrivier se rugbyklubs het mekaar die stryd in die finale vir die tweede spanne aangesê. Dié twee is geen vreemdelinge vir mekaar nie, en het van die staanspoor af alles op die spel gesit. Dit het by tye gelyk of Witrivier die oorhand gaan kry, en dan weer Nelspruit.
Beide spanne het hul wedstrydplanne goed uitgevoer, en het ewe honger na die titel gesmag, maar daar kon net een wenner wees. Na 80 minute se speeltyd het Nelspruit se tweedes met breë glimlagte en die titel van die veld afgestap. Hulle het Witrivier met slegs twee punte geklop: 29-27.
LEES OOK: Immergroen Neil Sandilands kuier in die Laeveld
Die tuisspan het kort na dié wedstryd se eindfluitjie geblaas het, saam met Witrivier se eerste span uitgedraf om sake in die eerste spanne se finale ronde uit te spook.
Soos met die eerste wedstryd, was hierdie ook ’n tawwe stryd. Die manne van Barberton het vir balbesit baklei, en het vroeg in die wedstryd reeds die telbord in hul guns gehad. Witrivier het egter nie tou opgegooi nie, en het met punte van hul eie terugbaklei.
Die emosies was tasbaar toe twee dubbele pare geel kaarte vanweë gevaarlike spel en die rits onderonsies op die veld toegeken is.
LEES OOK: Eden defeats Mpumalanga in nail-biting final in White River
Die span van Barberton was ’n raps meer klinies as hul opponente, en het die finaal met 19 punte teenoor 12 beklink. Al die kwade gevoelens is op die veld agtergelaat en die manne het ná afloop van die wedstryd lekker saamgekuier.
Barberton en Witrivier het reeds voor die finale gekwalifiseer om in die provinsiale halfeindronde teen die Hoëveldse spanne te speel.
Barberton sal 29 Julie teen Witbank op hul tuisveld speel, terwyl Witrivier kragte met Secunda daar gaan meet.








