Word deel van kinders se suksesstories as pleegouers in Lydenburg
Geregistreerde kinderbeskermingsorganisasies ervaar ’n dringende tekort aan goedgekeurde pleegouers en gesinne wat ’n plek van veiligheid aan kinders kan bied.
Diegene wat bevoegd is om ’n kind die nodige sorg en stabiliteit te gee, word aangemoedig om dit te oorweeg om ’n pleegouer te word. ’n Interessante praatjie oor dié onderwerp vind op 23 Augustus om 18:00 by die Hoërskool Lydenburg plaas.
Maatskaplike werkers sal die inligtingsaand aanbied en is beskikbaar vir navrae.
Volgens Hester van Zijl en Riandi Vijoen van Step Foundation en Child and Foster Care Support Initiative, is daar uiteenlopende omstandighede wat ’n rol speel wanneer kinders in pleegsorg geplaas word. Hulle verdien dit om in ’n veilige en stabiele omgewing groot te word.
Lees ook: Steelburger News 10 August 2023
Dit kan wees dat beide ouers sterf en kinders geen heenkome het nie. Die huislike omstandighede kan ook van só ’n aard wees dat dit nadelig is vir die kinders om daar te bly.
Die sprekers sal die verskil tussen langtermyn en permanente pleegsorg verduidelik.
Volwassenes wat belangstel om hul huise en harte oop te maak vir kinders in nood, kan ’n groot verskil in hul lewens maak.
Organisasies met statutêre magte sal die nodige keuringsproses behartig indien potensiële pleegouers, of plek-van-veiligheidsouers aansoek sou doen om te geregistreer.
Belangstellendes kan navrae rig aan Riandi Viljoen of Hester van Zijl by 013 235 2463 of 072 759 4520
