Dopper-mark gaan ‘n groot lekkerte wees op Lydenburg
Oom Karoolus en Lente, die kinderteatergroep, sal ook by die mark wees.
Die Gereformeerde Kerk Lydenburg se jaarlikse Dopper-mark vind op 26 Augustus plaas.
Dit sal oudergewoonte van 08:00 af op die kerkterrein van die NG Moedergemeente gehou word.
’n Heerlike ontbyt skop altyd vroegoggende die dag se verrigtinge af. Al die tradisionele lekkertes sal op die spyskaart wees, soos pannekoek, vetkoek, groente en vrugte, en allerlei gebak, en daar sal ’n vleistafel en teetuin wees.
Een spesiale stalletjie daar is die kwekery. Koop gerus ’n paar saailinge en woel vir die res van die naweek in die tuin.
Die kinderteatergroep, Lente en Oom Karoolus, gaan vanaf 10:00 die kinders vermaak.
‘n Braai-ete sal Vrydag vanaf 17:00 beskikbaar wees vir diegene wat verkies om nie self kos te maak nie. Dit sluit boerewors, sosatie, kwarthoender, knoffelaartappels en kool-en wortelslaai in. Kaartjies vir die braai-ete is by PostNet beskikbaar of die kerkkantoor in De Beerstraat.
Vir meer inligting, skakel die Gereformeerde Kerk se kantoor by 013 235 2457 of 066 504 0878.
