Bokkoors vat behoorlik vlam by Bergvlam!
Hoërskool Bergvlam het ook aan boord die Springbok-trein geklim, en voor die aanvang van die 2023 Rugbywêreldbeker ’n ontwerp-’n-truikompetisie geloods.
“Crouch, bind, design!”
In die gees van die 2023 Rugbywêreldbeker het die Vlammies hul kreatiwiteit op die proef te gestel en die Springbok-ondersteunershemp wat hulle graag sal wil dra, ontwerp.
“Die Vlammies staan bankvas agter die Bokke! Om gees onder die leerders te bou, het die skool die inisiatief geloods om ondersteunershemde vir die Rugbywêreldbeker te ontwerp,” het Mandy Barnard, die skakelbeampte by Bergvlam, aan Laevelder vertel.
Hierdie prettige projek is die breinbaba van die skool se departementshoof vir Afrikaans, Simoné de Jager.
Barnard verduidelik dat elke registerklas verantwoordelik was om ‘n ontwerp vir die kompetisie in te dien. “Die ontwerp moes uniek en oorspronklik wees, maar tog prakties! Die graadgroepe was dan verantwoordelik om die beste ontwerp van ‘n ander graad te kies. Daarna is ‘n stemming gehou om die beste ontwerp uit die top vier te kies.”
LEES OOK: Creative graduates in Barberton have an eye for fashion
Nadat die top ontwerp uit die gr. 8-, 9-, 10- en 11-klasse deur die betrokke registerpersoneel en graadhoofde gekies is, is dié vier op ‘n Google-vorm geplaas en aan die res van die skool uitgestuur om die wenner te bepaal.
“Al die ontwerpe was divers, soos ons Reënboognasie. Die ontwerpe is ook eie aan Suid-Afrika: baie ontwerpe het die nasionale blom en -bok bevat. Verder is rugby en elemente wat daarmee gepaard gaan, gebruik om die ontwerp interessant en oorspronklik te maak,” het Barnard gesê.
Die wenners van die eerste ontwerp-‘n-truikompetisie is… gr. 10E!
“Wel gedaan, Vlammies, julle het julself oortref! Die wenontwerp het ons so beïndruk dat ons dit deur CK Embroideries laat druk het.”
Die leerders sal nou kan pronk met hul eie T-hempontwerp tydens die Bokke se volgende kragmeting.

