Local news

Elvis Blue keer terug na Sudwala-grotte

'n Allemintige 200 mense het die trappies van die grotte se amfiteater volgesit en toegekyk hoe Elvis Blue, met die magiese dolomietformasies as agtergrond, sy treffers een na die ander met oorgawe sing.

Die amfiteater in die Sudwala-grotte was Saterdag 7 Oktober ‘n mengsel van saam sing, lag, heimwee en samesyn.

Die wenner van die sesde seisoen van Idols SA, Elvis Blue, het Laevelders weer eens met sy musikale talent by vanjaar se Moving Mountains-fondsinsameling bederf. Moving Mountains is ‘n organisasie sonder winsoogmerk wat minderbevoorregte kankerpasiënte help.

‘n Allemintige 200 mense het die trappies van die grotte se amfiteater volgesit en toegekyk hoe Blue, met die magiese dolomietformasies as agtergrond, sy treffers “Rede om te glo”, “Spore”, “Hart van klip” en sy nuutste treffer, “Die langpad gee nie om nie”, met emosie gelewer het.

LEES OOK: Krugerwildtuintroue: ‘n Ware ervaring

Die Johannes Kerkorrel-gunsteling “Hillbrow” het gesorg dat daar hier en daar ‘n traan gepink word, en Blue se vertolking van die bekende “Sal jy bly?” deur Theuns Jordaan het oud en jonk saam laat sing.

Izelle Pretorius van Moving Mountains sê dat hulle elke keer kies om Blue vir dié geleentheid te nooi omdat hy só ‘n nice mens is.

“Hy is seker een van die maklikste kunstenaars om mee saam te werk,” sê sy. “En almal hou van hom.”

Dit was inderdaad weer die geval toe die gehoor aan die einde van Blue se stel liedjies op hul voete was en hom soos een man met “Ons soek meer!” oortuig het om vir nog twee liedjies agter die mikrofoon in te skuif.

Aan die einde van die aand het die seremoniemeester, Jacques Lombard, namens Moving Mountains die aand se hoofborg, BUCO, bedank.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button