Local news

Wilde Woensdag saam met Wilna Wheater

Sien uit na 'Wilde Woensdag saam met Wilna', wanneer Laevelder eksklusiewe foto’s en video's van Wilna Wheater op sy sosialemediaplatforms gaan deel. Maar wie is die persoon agter die lens?

Die natuurlewe loop dik in haar bloed en are. Die rustigheid en vrede van die wildtuin verruil sy vir niks in die wêreld nie, en sy is altyd gereed vir wildeaksie met haar Nikon P1000-kamera.

Ons is bevoorreg om voortaan elke Woensdag Wilna Wheater se eksklusiewe beeldmateriaal op al Laevelder se sosialemediaplatforms te kan geniet.

Foto’s neem laat Wilna ontspan. Dit laat haar ontsnap van die daaglikse stresvlakke, en die resultate daarvan gee haar bevrediging.

“Dit het ’n kalmerende uitwerking op my. Dit spoor my aan om beter te kan doen met ’n volgende foto – as die lig dit toelaat, bygesê. Soms is dit moeilik om mooi foto’s op bewolkte dae te neem. Foto’s kan maar bra vaal uitkom en beligting speel ’n groot rol. En dit leer jou baie geduld,” sê Wilna.

Een van Wilna se pragfoto’s wat sy in die wildtuin vasgevang het. > Foto: Wilna Wheater

Maar wie is Wilna agter die lens?

Wilna Wheater, skrywer van die boek Geroep as getuies, was 20 jaar werksaam by die SAPD se hoofkantoor in Pretoria, in die personeelafdeling. Sy was ook by die administratiewe kantoor van die nasionale kommissaris betrokke.

“Ek het kommissaris George Fivas en Jackie Selebi se tikwerk behartig voor ek noodgedwonge moes bedank omdat my kind, Wendy, toe 11 jaar oud, met vier seldsame breingewasse gediagnoseer is en ’n noodoperasie moes ondergaan,” vertel sy.

Lees ook: Krugerwildtuintroue: ‘n Ware ervaring

Wilna is met Allen getroud, en hulle woon in Tshwane. Die egpaar het twee kinders, Wayne (30), ’n gekwalifiseerde elektrisiën, en Wendy (27), wat gestremd is en nie skool kon voltooi nie weens haar operasie.

Wilna sê hulle neem Wendy elke jaar wildtuin toe ter viering van twee spesiale geleenthede. “Haar verjaardag op 16 September, en ook vier ons vanjaar 15 jaar wat Jesus ons dogter vir ons teruggegee het toe sy besig was om in die intensiewesorgeenheid in die Groenkloof Hospitaal te sterf.”

Nog ‘n foto van ‘n buffel wat sy in die wildtuin geneem het. > Foto: Wilna Wheater

Volgens Wilna bied die wildtuin vir die gesin kalmte, rus en vrede.

“Die wildtuin se rustigheid laat alle verstand te bowe gaan, wat God alleen vir ’n mens kan bied. Ek ervaar Sy skoonheid in elke sonsopkoms en -ondergang. Ek ervaar die Skeppingskrag as ek na die gestalte en krag van ’n olifant, renoster of seekoei kyk. Daar is so baie wat daar rondloop. As ek net dink aan die gewig wat almal saam weeg, dan vorm ek ’n prentjie in my gedagte dat hulle eintlik so lig soos ’n veertjie in die holte van ons Skepper se hand is. Om nie eers te praat van die massiewe berge al langs die N4 op pad wildtuin en Marlothpark toe nie. Veral vanaf Nelspruit.”

Wilna en Allen is natuurkinders. Beide het op wildsplase grootgeword – sy in Groblersdal en hy tussen Northam en Thabazimbi. Vandaar die groot liefde vir die natuur en wildlewe.

Lees ook: Seldsame verskynsel ‘n hoogtepunt vir gesin wat wildtuin besoek

“Ons besoek die Krugerwildtuin gereeld, soms tot twee keer per jaar. Ons gunstelingblyplekke is Elephant Walk Retreat, Ngwenya Lodge en Marlothpark. Ook kamp ons somtyds met ons karavaan binne die wildtuin, by Onder-Sabie. Die natuurlewe hardloop in ons bloed en are.”

Dit is dan die tyd wanneer hulle afskakel van die stad se gejaagde lewe.

Video: Só word slange hanteer in die Nasionale Krugerwildtuin

> Foto: Wilna Wheater.

“Dit laat jou doodeenvoudig net ontspan en vergeet van die alledaagse werksdruk en stres. Dan tel ons ons seëninge dat ons as gesin nog voltallig is. Dit alles is net een groot stuk genade. My man het nog vier jaar oor, dan word hy 60, en beplan hy om af te tree. Ons beplan om vir ons binnekort ’n huis op Marlothpark te koop sodat ons die Laeveld meer gereeld kan besoek, as dit die Here se wil is en Hy ons lewens spaar.”

Lees ook: Rooibok staan nie ’n kat se kans by watergat in wildtuin

Maar permanente inwoners word by Marlothpark, is hulle nie beskore nie, vertel sy.

“Ek gaan waar God my lei. Tans fokus ek op die vertaling van my boek. Ek bedien mense geestelik op twee groot sosialemediaplatforms.”

Dit is Wilna. Die vrou agter die lens.

Laevelders kan voortaan elke Woensdag na haar foto’s en video’s, wat sy in die wildtuin en Marlothpark vasgevang het uitsien. Die storie agter die beeldmateriaal sal ook verskyn.

Hou Laevelder se blaaie dop: Facebook, YouTube, TikTok, Instagram en Twitter (X).

Wil jy ook graag jou wilde wildtuinfoto’s en video-ervaringe met ons deel?

E-pos gerus: bertus@lowvelder.co.za

Back to top button