Rooibok staan nie ’n kat se kans by watergat in wildtuin
Die Grovés het ná omtrent 'n halfuur se wag by 'n watergat in die Nasionale Krugerwildtuin gesien hoe 'n luiperd deur die lug duik en 'n rooibok vang, én hulle kon die oomblik op kamera vasvang.
Saterdagmiddag in die Nasionale Krugerwildtuin was vir die Grovés ’n fotogeleentheid soos min, toe hulle vier katvoete in die lug op kamera vasgevang het.
Avery en Gerhard Grové was omstreeks 15:00 by die De La Porte-watergat naby Skukuza toe hulle ’n luiperd deur die lug sien duik het om ’n rooibokram te vang.
“Toe ons daar aankom het die mense gesê daar is ’n luiperd agter die bos. Ons het by die grondpaadjie ingedraai net toe die luiperd nader kruip aan die watergat,” sê Avery.
LEES OOK: Genade op genade vir plaaslike pastoor ná ongeluk
“Daar was ’n paar vlakvarke aan die agterkant van die watergat. Die luiperd het toe plat gaan lê in die gras. Later het ’n koedoekoei baie naby aan die luiperd verbygekom en niks eers gesien nie. Sy het water gedrink en weer verby die luiperd teruggestap sonder om iets te sien.”
Hulle het vir omtrent ’n halfuur by die watergat gesit en die rooibokke dophou.
“Almal was net te ver vir die luiperd, maar uiteindelik het twee ramme in die luiperd se rigting gestap.
“Ons kuier gereeld in die wildtuin en my man sê toe ek moet regsit met my kamera. Die voorste ram was te groot vir die luiperd, maar die tweede een was net reg.
LEES OOK: Dewald leer van empatie op sy reis ná amputasie
“Die voorste bok het niks agtergekom nie. Die luiperd het net nodig gehad om in die lug op te spring om die tweede bok te gryp.”
Sy sê hulle was “super opgewonde” ná die tyd toe hulle sien hulle het wel die aksieskoot gevang. Hulle kon nie die luiperd na die vangs volg nie as gevolg van die baie ander voertuie wat ook teenwoordig was.
“Ons het gebewe van opgewondenheid! Dit is ’n droom bewaarheid!”
* Foto’s: Gerhard Grové