Bok-Vrydag word Pumas-pienk in Mbombela
Die Pumas-rugbyunie het vir die Laevelders ’n sakeontbyt by die Emnotweni Arena gehou. Sakelui en rugbyliefhebbers het die oggend saam met die span en voormalige Springbokke, Frans Steyn en Breyton Paulse, geniet.
Hierdie Bok-Vrydag is vir ’n oomblik met ’n skakering van pienk ingekleur tydens die Pumas se sakeontbyt vanoggend, 27 Oktober, by die Emnotweni Arena plaasgevind het.
Die Laevelders het in groot getalle ter ondersteuning van hul eie Laeveldse rugbyhelde opgedaag. Nie net het die hele Pumas-span en -bestuur die geselligheid saam met die ontbytgangers geniet nie, maar oud-Springbokke Frans Steyn en Breyton Paulse het ook by hulle aangesluit.
Die doel van die oggend is om Mpumalanga se sakemanne en -vroue by die Pumas-familie te betrek. Die hoofbreier van die Airlink Pumas, Jimmy Stonehouse, het in Julie vanjaar op sosiale media ’n beroep op weldoeners gedoen om in die aanloop tot die 2024-rugbyseisoen by die span betrokke te raak.
LEES OOK: Mbombela Stadium to host Springbok Fan Park
“Ons glo die Pumas kan ’n internasionaal erkende handelsmerk word, maar ons kan dit net doen as die Laeveldse sakeondernemings hierby inkoop,” het hy vroeër aan Laevelder vertel.
By die sakeontbyt het Stonehouse weer eens ’n beroep op sakelui gedoen om die span en unie te ondersteun. Hierdie was sy woorde: “Jy help om ’n nalatenskap te laat.”
Buiten die ernstige gesprekke is daar deur die loop van die oggend lekker saam gelag, gesing en geëet, en natuurlik, die rede waarom almal eintlik daar was – rugby gesels.
LEES OOK: Four former Lowvelders in Rugby World Cup final
Die gesprekke is deur Paulse gehou, wat self ’n gesoute kommentator is, deel van die SuperSport-span. Die onderwerpe was onder meer die Pumas se spelpeil, die span se suksesse die afgelope paar jaar en hul betrokkenheid in die Laeveldse gemeenskap.
Steyn en Stonehouse het ook lekker saam oor hul tyd in Japan as deel van die Toshiba Brave Lupus gesels – Stonehouse as afrigter en Steyn as speler.
Nóg een van die gesprekke tussen dié paneel kenners was Steyn en Stonehouse se gevoel oor môreaand se rugbywêreldbekereindstryd tussen die Bokke en die All Blacks.
“Ek dink dit gaan moer taf wees,” het dit van Steyn gekom. “Ons kan dit doen, maar dit gaan taai wees.”
Stonehouse deel dieselfde sentiment. “As ons nie die skrums gaan oorheers nie en nie by die losgemaal goed doen nie, dink ek ons gaan moeilikheid hê.”
Die stryd om die Webb Ellis-trofee word môreaand in die Stade de France, Parys, om 21:00 beslis.






