Toer deur die land saam met Laerskool Laeveld Lugredery
Laeveld se revue, ‘Kom ons vat die pad, Suid-Afrika-styl’, het die gehoor op 'n reis deur die nege provinsies van ons pragtige land geneeem. ’n Volgepakte skoolsaal het homself ingegordel en teruggesit en ontspan vir dié musikale reis.
Ten spyte van ‘n gesukkel met kostuums vir dié optrede, is Laerskool Laeveld se revue vanjaar met ‘n groot gejuig op die planke gebring.
Verlede week het die Laeveld-skoolgemeenskap die geleentheid gehad om hul kinders en vriende se ougat danspassies eerstehands op die verhoog te beleef.
Laeveld se revue, Kom ons vat die pad, Suid-Afrika-styl, het die gehoor op ‘n reis deur die nege provinsies van ons pragtige land geneem – van safari tot die see! Die reistog het afgeskop hier in ons eie provinsie met die graadeens wat hul deel gedoen het om die ‘wildrit’ deur die Nasionale Krugerwildtuin so na aan die ware jakob soos moontlik te laat voel.
LEES OOK: Lowveld’s 2024 tennis season in full swing
Daarna het die toeriste aanboord Laerskool Laeveld Lugredery geklim vir hul tweede stop: Johannesburg, Gauteng. Geld was hier een van die hooftemas. Daar is ook tong-in-die-kies gespot met die tannies van Benoni wat hou van hulle luiperdmotief- klere, groot hare en blou oogskadu. Dié prentjie het gesorg vir ‘n lekker lagbui.
Reisigers het die stadsgedruis met hul derde stop verruil vir die wit strande van KwaZulu-Natal en die majestueuse pieke van die Drakensberge.
Net voor pouse het die skool se graadviers gesorg dat die baaikostuums en sonbrille aanbly met hul draai in die Oos-Kaap. Jeffreysbaai se branders, die tuinroete en Baviaanskloof se berge het onder die gehoor verbygegly toe hulle stop om bene te rek en brandstof in te gooi.
LEES OOK: Bokke, bring die 2023-Rugbywêreldbeker weer huis toe!
Na die pouse is die reis hervat, en dié keer was dit die graadvyfs wat die gehoor na Kaapstad geneem het. Hier is daar nes die Kaapse Klopse gejive. Die volgende stop was die Noord-Kaap met sy vrugteboorde, rooiwarm sand en Augrabiese Valle.
John Deere-trekkers en die Vrystaat se mielielande was die laaste stop voordat Laerskool Laeveld Lugredery na Mpumalanga teruggekeer het, maar ‘enjinprobleme’ het veroorsaak dat ‘n noodgedwonge ompad oor Limpopo gevolg moes word.
Terug by die huis kon die passasiers hulle gordels losmaak en met breë glimlagte van dié vlug afklim.
Dié reis deur Suid-Afrika is vir seker een waarop jy wou wees, en as jy dit misgeloop het, maak seker jy boek jou sitplek vandag nog op volgende jaar se vlug.

























