Local news

Oud-Nellie borg ‘kant’ in Bongi se eer

Michelle Burger, ’n Hoërskool Nelspruit-alumnus wat nou in Nieu-Seeland werk, het besluit om midde-in die herrie rondom Bongi Mbonambi tydens die Rugbywêreldbeker, spesiaal vir hom 'n woord in die woordeboek te borg.

In aanloop tot die eindstryd van die Rugbywêreldbeker was die rugbywêreld onlangs aan die gons oor die Springbok-haker, Bongi Mbonambi, se beweerde uitlatings teenoor Engeland se Tom Curry in die halfeind die week tevore.

Die Engelse flank het Mbonambi daarvan beskuldig dat hy hom ‘n ‘white c**t‘ genoem het.

Kort na dié omstredenheid is ‘n video wyd en syd op sosiale media gedeel wat beeld- en klankmateriaal uit die kragmeting bevat. Op die video kan die Afrikaanse woorde “wit kant, wit kant!”, duidelik ‘n bevel aan sy span, uitgemaak word.

LEES OOK: Springboks’ visit to Mbombela in planning stages

Soos dit egter ‘n stoere voorryspeler soos Mbonambi betaam, het die aantygings hom nie van stryk af gebring nie. Inteendeel het die land kort voor die eindstryd bankvas agter hom begin staan en die bewerings, soos net Suid-Afrikaners kan, in ‘n humoristiese wyse as bog afgemaak.

Michelle Burger, ‘n oud-Laevelder en Hoërskool Nelspruit-alumnus wat sedert 2019 in Nieu-Seeland bly, het verlede Woensdag saam met Esthe Pretorius ook tong in die kies besluit om die woord ‘kant’ in die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) aan Mbonambi op te dra deur dit in sy naam te borg.

Burger vertel dat al die grappies en spotprente op sosiale media omtrént die rondes gedoen het.

“Ons het aandete geëet, en Esthe het vir my gevra of ek weet dat jy ‘n woord vir iemand in die Afrikaanse woordeboek kan koop of borg. Ek het dit nie geweet nie. Sy sê toe vir my: ‘Kom ons borg die woord “kant” vir Bongi!’ Ek het gedink dit was ‘n wonderlike idee!

“Ons het daar en dan besluit om dit te doen, en amper onmiddellik ‘n sertifikaat ontvang om te wys ons het die woord tot Bongi se eer geborg. Esthe het dit op haar Facebook-blad geplaas, en van daar af het dit nogal viral gegaan,” sê Burger.

‘n Skermgreep van die WAT-sertifikaat. > Foto: Facebook/Esthe Pretorius

“Esthe Pretorius en Michelle Burger het bygedra tot die vaslegging van die rykdom, kleurrykheid en verskeidenheid van Afrikaans deur die woord ‘kant’ vir Bongi Mbonambi te borg,” lees die sertifikaat wat deur die WAT aan die vroue uitgereik is.

LEES OOK: Trane én ekstase in Frankryk vir Laeveldse fotograaf

Op die vraag oor wat haar mening oor die hele gedoente met Mbonambi is, antwoord sy dat sy reken dit net een groot misverstand was wat ‘n bietjie uit proporsie geruk is. “Ek dink ook dit moes soveel druk bygedra het tot ‘n reeds stresvolle week in aanloop tot die eindstryd.”

Die aanklagte teen Mbonambi is gelukkig laat vaar vanweë die gebrek aan enige konkrete bewyse.

Burger, wat in Nieu-Seeland werksaam is, sê sy het baie respek vir die Kiwi’s, maar dat haar hart altyd groen en goud sal klop. Toe dit dus by die eindstryd kom, het sy vierkantig agter die Bokke gestaan.

“Wat ‘n wedstryd! Dit het die potensiaal gehad om enige kant toe te gaan. Ons verdediging was super sterk, en die manne het soos altyd hul harte uit gespeel.”

Ná die eindstryd was dit beslis duidelik dat daar net een kant vir die Bokke is: die wenkant!

Michelle Burger en Esthe Pretorius. > Foto: Facebook/Michelle Burger

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button