Local news

Trane én ekstase in Frankryk vir Laeveldse fotograaf

Johan Orton het die voorreg gehad om al die aksie tydens die Springbokke se Wêreldbeker oorwinning teen die All-Blacks. Hy vertel hoekom dié sege die een van 2019 top en ook hoe hy amper die eindstryd misgeloop het.

Terwyl die Springbokke die geskiedenisboeke tydens Saterdag se Rugbywêreldbekereindstryd teen die Kiwi’s in die Stade de France herskryf het, was die Laeveldse fotograaf en die media- en skakelbeampte by Laerskool Nelspruit, Johan Orton, ook besig om sy naam by dié stuk geskiedenis te voeg.

“2023 was die kersie op die koek,” vertel Orton aan Laevelder.

Hy het die aksie tydens die toernooi in 2019 in Japan ook met sy kamera vasgevang, en alhoewel daardie jaar se eindstryd ‘n soete oorwinning teen Engeland gesien het, staan die een in Frankryk kop en skouers uit.

“In Japan het ons ‘n makliker pad tot in die eindstryd gehad. Ons het Japan in die kwarteind en Wallis in die halfeind gespeel, waarna Engeland gevolg het,” sê Orton, en voeg by dat hy niks van dié prestasie wil wegvat nie. “Maar in hierdie toernooi het ons al die moeilike spanne gehad!”

LEES OOK: Springboks’ visit to Mbombela in planning stages

Die Bokke se pad tot in die eindstryd was alles behalwe maklik. Hulle het begin met ‘n kragmeting teen die Skotte, toe volg ‘n wedstryd teen die destydse wêreld nommer een, Ierland. ‘n Fisiese en strawwe wedstryd teen Tonga het ook baie van die manne in groen geëis, en toe natuurlik die kwarteind van die toernooi teen die tuisspan, Frankryk. Nóg eenpuntoorwinnings het daarna teen Engeland gevolg, en toe teen die grote, Nieu-Seeland, om as wêreldkampioene gekroon te word.

“Dis seker een van die beste rugby-rivalries wat daar is, dié tussen die Springbokke en die All Blacks, en ons het hulle in die finaal geklop. Dit was net amazing! Lekker vuurmaakhout vir die oudag.”

Wat baie egter nie weet nie is dat ons Laeveldse fotograaf dalk nie eers die eindstryd sou kon meemaak nie. “Daar was ‘n bietjie drama by die stadion,” vertel Orton grootoog.

“Ek was besig om die derde en vierde plek bronsmedaljewedstryd tussen Engeland en Argentinië af te neem, en het so rustyd besluit om ‘n draai te loop om te gaan kyk waar ek vir Saterdag se eindstryd geposisioneer is. Toe kom ek agter my naam is nie op die lys nie, en dit nadat ek e-posse ontvang het en my akkreditasie goedgekeur is. Ek gaan toe na die hooffotograaf toe en vra hom wat aangaan. Die Fransman sê vir my my naam is nie op die lys nie, en toe ek beswaar aanteken, voeg hy by: ‘It is what it is. Sorry, mate.'”

LEES OOK: Over 1 000 compete in various sporting codes at Reef 7s in White River

Na ‘n lang gesukkel (en so ‘n bietjie sweet en trane) is Orton 14:00 op die middag van die eindstryd via e-pos laat weet dat hy wél by die span fotograwe vir die finale kragmeting kan aansluit. “Ek het amper die eindstryd in ‘n kroeg gaan kyk,” lag hy verlig.

Uit die 380 fotograwe wat aangestel is om die toernooi af te neem, is slegs 70 toegelaat om die eindstryd by te woon.

Orton vertel dat die atmosfeer tydens die eindstryd ongelooflik was. “Daar was soveel Suid-Afrikaners, jy hoor net Afrikaans.”

Hy vertel dat terwyl jy deur die strate van Saint-Denis loop, hoor jy die klanke van bekende Afrikaanse liedjies uit die kroeë en dans daar mense langarm in die strate.

LEES OOK: ‘n Baanbreker van die Laeveld op 90 oorlede

“Die reënboognasie was daar, almal in Bok-klere getooi. Jy kan dit vasvang op video’s en aanstuur, maar nie beskryf nie. Jy moet dit ervaar.”

Orton sê dat terwyl hy ‘n fotograaf, ofte wel fotojoernalis, is, is hy ook ‘n trotse rugbyondersteuner. “Ek wou met tye net kyk, maar dan besef ek dat ek gefokus op die bal moet bly, my lens moet regkry en my instellings ook.

“Al wanneer jy kan kyk is as die spel aan die ander kant van die veld is.”

Hy vertel dat hy wel Dinsdag die eindstryd op DStv Catch Up gekyk het. “Ek wou dit daarna sommer nog ‘n keer kyk!” lag Orton.

Wat hy wel goed onthou van Saterdag se Wêreldbekeroorwinning, is sy reaksie toe die Bokke wen.

“Mediafotograwe kan nie hulle hande in die lug sit of kant kies nie, jy moet neutraal bly. Ek het my heeltemal in toom gehou, maar toe daardie eindfluitjie blaas, het ek, en ek is ‘n kort outjie, hoër gespring as Eben Etzebeth. Daar was trane en emosie.”

Orton is nie die eerste fotograaf wat uit die Laeveld kom om ‘n Wêreldbekereindstryd vas te vang nie. Raymond Bezuidenhout het ook so in 1995 tydens daardie historiese eerste toernooioorwinning teen die All Blacks op Ellispark gedoen.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button