FOTO’S: Laerskool Witrivier reis om die wêreld met revue
Vanjaar se produksie het oor 'n vlug vol emigrerende Suid-Afrikaners gehandel wat 'tegniese probleme' op hul vliegroete ondervind. Na ’n paar noodgedwonge stoppe kom hulle agter dat Suid-Afrika altyd hul tuiste sal bly.
Na sewe jaar van afwagting was dit uiteindelik tyd vir Laerskool Witrivier om weer ‘n revue aan te bied.
Hierdie uitmuntende produksie, ‘n Reis om die wêreld, is vanaf 30 Oktober tot 2 November aangebied.
Die tema is met elke element van die vertoning uitgebeeld; van die konsertkaartjies in die vorm van vlugkaartjies, die programme in die vorm van paspoorte, die dekor, die volledige kajuit en die hoofspelers geklee as lugwaardinne en vlieëniers, tot die agtergrondgeluide wat ‘n mens tipies op ‘n lughawe of aan boord ‘n vlug sou verwag, en die video’s op ‘n LED-skerm wat voor en tydens die vertoning gespeel is.
LEES OOK: 4 695 finish Kaapsehoop 3-in-1 Marathon in Mbombela
Daar is aandag aan die kleinste besonderhede gegee om elke revueganger te laat voel of hulle werklik aan boord vlug WRP 2023 van die Labor Est Ars-lugredery was.
Die storielyn was op ‘n vlug vol emigrerende Suid-Afrikaners geskoei, wat ‘tegniese probleme’ ervaar wat hulle dwing om ‘n paar onbeplande landings te maak.
Van die heel eerste item waarin die personeel die ‘ongewenste passasiers’ uitgebeeld het wat ‘n mens liefs op enige vlug sou wou vermy, tot die uiteindelike bestemming van die vlug, is almal met fyn humor, kleurvolle kostuums, musiek vir oud en jonk en natuurlik die ongelooflikste danspassies vermaak.
Die reis in Antarktika is deur die skool se graadeens uitgebeeld, en daarna Australië en Nieu-Seeland deur die graaddries. Ná opwindende landings in Suid-Amerika saam met die graadsewes, in Noord-Amerika saam met die gr. 2’s en in Europa saam met die gr. 5-leerders, was dit tyd om saam met die graadviers in Asië te gaan draai. Uiteindelik bereik die passasiers hul finale bestemming: Afrika.
LEES OOK: Vlammies geniet ‘n strandpartytjiebederf
Onderwysers en leerders het baie ure se harde werk ingesit om die kostuums en rekwisiete te maak en danspassies aan te leer; selfs die agtergrondmusiek was opnames van die leerders wat self die liedjies gesing het.
Die revue is deur die uiters talentvolle Esmé Schoeman georganiseer. Henry-John Williams het die pittige storielyn geskryf en die uitstekende klank en beligting is deur AVS voorsien.
Dit was dan ook gepas dat die gala-aand presies 120 dae voor Laerskool Witrivier se 120ste bestaansjaarvieringe gehou is. Wat ‘n ongelooflike manier om die komende feesvieringe vooruit te gaan!
Niemand wat Laerskool Witrivier se revue bygewoon het, sal sommer hul vlug aan boord die WRP 2023 kán of wíl vergeet nie!





