Krag van vergifnis haar redding, getuig Yolande Korkie in Lydenburg
Haar werk by Crisis Response Network (CRN) help nou ander terreurslagoffers nadat sy 'n gyselaar van Al Kaïda was.
Yolande Korkie se woorde het op 11 November met diepe eenvoud in die NG Lydenburg-Suid weerklink.
Haar tasbare vrede en onwrikbare verbintenis met ‘n hoër doel was niks minder as ontsagwekkend nie.
Haar liefde vir beide God en die mensdom het ‘n onuitwisbare merk gelaat. En haar boeiende verhaal van haar en haar man, Pierre, se ontvoering is met hoop en vergifnis deurvleg.

Sy het nooit in haar wildste drome gedink dat haar ontvoeringsverhaal haar op die wêreldverhoog sou plaas nie.
Sy en haar man is op 27 Mei 2013 in Jemen deur die terroristegroep, Al Kaïda, ontvoer. Na ‘n onderhandeling deur die noodlenigingsorganisasie, Gift of the Givers, is sy agt maande later vrygelaat.
Lees ook: Borgtog vir vermoorde Megan Griesel geweier
Op 6 Desember 2014, 11 maande ná die ontvoering, is Pierre tydens ‘n mislukte reddingspoging deur die Amerikaanse spesiale magte doodgeskiet. Op daardie stadium was Yolande reeds terug in Suid-Afrika by haar kinders.
Sy beskryf dit net as God se genade dat hulle kinders nie die dag saam ontvoer is nie. Sy het slegs ure voor haar vrylating gehoor dat hulle veilig in SA by hul familie is. Sy en Pierre het tydens die maande wat hulle aangehou is, nie geweet waar hulle kinders is nie.

Net voor die mediakonferensie ná haar man se afsterwe, was die enigste woorde wat sy met die wêreld wou deel, dié van vergifnis.
In haar boek, 558 Dae, vertel sy van haar liefde vir Jemen en ook hoe gebed tydens aanhouding haar toevlug geword het. Sy het amper nie die boek voltooi nie, omdat sy nooit Pierre se notaboeke teruggekry het na sy dood nie. Hy was saam met ‘n Amerikaanse gyselaar, Luke Somers, aangehou. Somers is saam met Pierre vermoor.
Sy het gewonder of dié se familie dalk iets van hul geliefde gekry het. Haar navraag het vrugte afgewerp, en sy het Pierre se notaboeke uit Amerika ontvang. Sy het gesê dit was haar teken van die Here dat sy die boek moes voltooi.
“Ons het die merkwaardigste en blywendste vriendskappe in Jemen gevorm, ons het geleer van die vrygewige Jemenitiese mense en hul liefde vir ander kulture en godsdienste,” het sy gesê.

Yolande het met INcontext International kennis gemaak en gesels oor haar visie vir kerke en organisasies om in krisissituasies en in terreuraanvalle saam te werk. Dit het gelei tot die stigting van die CRN, ‘n Kaapstadse organisasie sonder winsbejag met ‘n plaaslike en internasionale teenwoordigheid. Yolande is CRN se stigter en direkteur.
Om meer oor die organisasie te lees, besoek www.crisisresponsenetwork.net.





Foto’s: Michelle Boshoff en Gerda Whitehorn.
