Local newsNews

Kuieraand met raakprater Amore Bekker inspireer Lydenburgvroue

Deel van haar raad aan gaste was om 'n joernaal te begin en jou eie lewensverhaal neer te pen.

Die sielkunde agter vroue se geëtery om hulself te troos, was deels die tema van die gewilde voormalige RSG-omroeper, Amore Bekker, se aanbieding op 7 November in die NG Lydenburg-Suid se saal.

Dié pittige gasspreker en raakprater het by die Vroue@Suid se afsluitingsfunksie die vroue op ‘n reis deur haar eie grootwordjare geneem. Sy het ekstra trooswoorde vir al die middelkinders wat soos sy, ondanks goeie ouers, van kleins af afgeskeep gevoel het.
“Onthou dis persepsies, nie noodwendig die waarheid wat jou selfbeeld vorm nie,” glo sy. “En dis juis die woorde van familie en nabymense, gewoonlik in ligte luim gesê, wat jou die seerste maak.”

Doemie Maré, Marda Loots en Rina van der Merwe.

Sy het ruiterlik erken dat eet haar troos. Sy sê sy kon op universiteit ‘n boks beskuit verslind om beter te voel. Haar eerste teaterrol was dié van Nettie Eier, ‘n vet, vrolike meisie in Henriette Grové se toneelstuk Uitdraai. Hierna is sy oorsee, en met die terugkoms het haar familie haar byna nie herken nie.

Lees ook: Borgtog vir vermoorde Megan Griesel geweier

Sy het haarself met vier stappe reggedokter, sê sy. Die eerste is om ‘n joernaal aan te skaf en jou eie lewensverhaal neer te skryf. “Jy vergeet so maklik wat jy al alles oorleef het. Wanneer jy dit neerskryf, kry jy nuwe respek vir jouself.”
Die tweede stap is om jou verhaal vir iemand te vertel, sodat jy jouself kan hoor.
“‘n Goeie vriend of vriendin wat jy kan vertrou, of ‘n Chinees wat jy betaal om te luister, is goeie opsies,” is haar raad.

Met die derde stap het sy die hele gehoor betrek. Met toe oë het almal deur ‘n verlate straat in die dorp gestap tot by ‘n verwaarloosde dogtertjie wat op ‘n klip sit. Met begeleiding het elkeen die dogtertjie in hul verbeelding aan die hand gevat, huis toe geneem, getroos, met ‘n borrelbad bederf en verseker dat sy nooit ooit weer alleen of onbeskermd sal wees nie.

Amore Bekker. Foto’s: Gerda Whitehorn

“Hierdie klein dogtertjie het nie die woordeskat gehad om haar pyn te verwerk nie, maar met jou aan haar sy, kan haar genesingsproses begin,” sê Bekker.

Die laaste stap baseer sy op die kruiekoningin, Antoinette Pienaar, se sêding: “Jy is chronies moeg, want jy is nie op jou pad nie.”
Wanneer jy nie op jou bestemde pad is nie, is die lewe lank. Dan ervaar jy woede, eensaamheid en hartseer. By Marthinus Versveld, skrywer en filosoof, het sy geleer dat eet ‘n manier is om jou lewe perpektief te gee.

“God het ons gemaak omdat Hy ons wil geniet. Ons is gemaak vir vreugde,” was Bekker se oortuigende afsluitingswoorde.
Haar boek met mense se verhale oor engele wat hul pad gekruis het, Ek het ‘n engel gesien, is nou op die rak by alle toonaangewende boekwinkels.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button