Local newsUpdate

Privaat ondersoekspan betrek by dubbelmoordondersoek in Mbombela

Private ondersoekers wat aangestel is ná Ilonka Craucamp en Shawn Pretorius vermoor is, soek nóg beeldmateriaal om te help met die ondersoek.

Albert Gryvenstein van Bossies Community Justice en AG Solutions is gister (27 Desember) deur Jaco Craucamp en Melane Pretorius die mandaat gegee om hulle in die ondersoek na hulle eggenote se moord op Kersdag by te staan.  

Ilonka Craucamp en Shawn Pretorius sy lyke is op Kersdag in ’n huis in Steiltes, Mbombela, gevind.  

Gryvenstein het aan Laevelder bevestig dat hulle nou aktief by die saak betrokke is en gesê dat hy reeds ’n spesialisondersoeker aangestel het. Hy sê hy sal oorsigtelik optree en die vordering monitor.

Hy het ook bevestig dat die gesoute sekuriteitskenner, Johnny Kerswill van Pinnacle Risk, ook met die ondersoek help. Dié maatskappy doen hoërisikosekuriteit, en Kerswill het aan Laevelder bevestig dat hy weens sy verbintenis met die gebied bystand wou verleen.  

Jaco het vanmiddag aan Laevelder gesê sy kinders het Kersdag omstreeks 15:00 dit onder sy aandag gebring dat hulle ma, Ilonka, nog nie hulle teksboodskappe aan haar gelees het nie, en hulle ook nog nie gebel nie.

“Ilonka was baie lief vir haar kinders en sou nooit op ’n spesiale dag soos Kersfees of hulle verjaardae versuim om hulle te bel nie. Ek was ook bekommerd en het vir Melane gekontak.”   

Melane het bevestig dat ook haar kinders nog nie van hulle pa, Shawn, gehoor het nie. Jaco het haar versoek om met die voertuigopsporingstelsel vas te stel waar Shawn se bakkie was, en dit het aangedui dat die voertuig in Laserstraat by sy woning geparkeer was.  

Hy het haar toe gevra om die buurman te versoek om te gaan kyk of hulle daar is.

“Sy het laat weet dat daar buite ’n lig brand, en hulle het die buurman toe weer versoek om in die erf in te gaan. Dit was reeds skemer, en hy wou dit nie doen nie. Ek het Melane toe gevra om Hi-Tech Nelspruit te skakel om vir ons te gaan kyk.” 

Dit is gedoen, en hulle het laat weet dat die voertuig wel buite staan.

Jaco sê ’n uur later was sy kinders rasend van bekommernis, en hy het vir Melane gevra om Hi-Tech weer te bel en te vra dat hulle in die erf in gaan om te gaan kyk wat aangaan.

Dis met dié besoek wat die liggame ontdek is. 

Jaco Craucamp. Foto: Verskaf.

Jaco sê dat hy en sy kinders gedaan is.

“My foon hou nie op lui nie en daar is honderde boodskappe wat deurkom. Ons moes vanmiddag gou ’n paar goed gaan koop, en ek het hulle gevat om iets te gaan eet sodat ons net ’n bietjie tot ruste kon kom.” 

Beide Jaco en Melane is bewus van die vele gerugte wat die ronde doen, en hy sê dat hy tot nou toe enige beriggewing en sosiale media vermy het. 

Hy het wel aan Laevelder erken dat Ilonka en Shawn reeds 12 jaar gelede ook in ’n verhouding betrokke was, waarna die Craucamp-egpaar geskei het.

“Sy het ná twee jaar na my toe teruggekeer en ons is in 2017 weer getroud.”

Toe die verhouding onlangs weer vlamvat, het Jaco “haar help pak” en gesorg dat sy alles in haar huis het wat sy nodig het.

“Ons is op goeie voet uitmekaar,” het hy benadruk en gesê beide hy en Melane wil hê dat die skuldiges so gou moontlik vasgetrek moet word.  

Laevelder het beeldmateriaal bekom wat duidelik wys hoe drie mans om 01:17 op Kersdag in Enterprisestraat afstap en dan by verskeie erwe inloer. By een huis het die mans die kameras opgemerk en vinnig agter ’n muurtjie skuiling geneem.

Die lig van ’n selfoonskerm is dan duidelik sigbaar, en dit lyk of een van die mans ’n oproep maak. Hierna beweeg hulle in die rigting van Laserstraat.

In die beriggewing oor die saak wat op 27 Desember gepubliseer is, word die inligting wat op ’n WhatsApp-groep gedeel is, as volg weergegee:

Op ’n WhatsApp-veiligheidsgroep wat Steiltes bedien, het inwoners van Laserstraat om 01:49 op Kersoggend alarm gemaak oor drie mans wat toegang tot ’n woning in Enterprisestraat probeer verkry het. Nadat daar alarm gemaak is, is hulle glo by Laserstraat af. Om 02:15 het ’n tweede inwoner op die groep geskryf: ‘Gunshots in Laser.’”

Bossies Community Justice het n beroep op inwoners van Steiltes wat kringtelevisiekameras het, gedoen om die dae voor asook op Kersdag self se beeldmateriaal na te gaan, en sou daar iets opgemerk word, dit so gou moontlik aan Callen Herbst by 082 895 9368 te stuur

 
Back to top button