Local newsUpdate

Nuwe inligting oor dubbelmoord in Mbombela werp baie lig op saak

Die legkaartstukkies val stuk vir stuk in plek ná die dubbelmoord van Ilonka Craucamp en Shawn Pretorius in Steiltes.

Die privaat ondersoekspan van Bossies Community Justice en AG Solutions, wat ’n dubbele moord op Kersdag in Mbombela ondersoek, het vanoggend bevestig dat die legkaart rondom die gebeure nou in plek begin val.

Albert Gryvenstein, bedryfshoof en eienaar van AG Solutions, het gesê die diefwering by ’n venster aan die agterkant van die woning in Laserstraat was oopgebuig, en was groot genoeg vir iemand om toegang te verkry.

Dié inligting is nie in die polisieverslag wat aan die media uitgereik is, ingesluit nie.

Nadat hy self die toneel gefynkam het, het Gryvenstein gesê dat daar al ’n vollediger prentjie gevorm kan word oor wat moontlik in die vroeë oggendure van Kersdag gebeur het toe Ilonka Craucamp en Shawn Pretorius in dié huis in Steiltes doogeskiet is.

Gryvenstein sê dat Craucamp en Pretorius ’n ‘krismisbed’ in die sitkamer gemaak het waar hulle die aand geslaap het. “Ek is van mening dat Shawn moontlik gehoor het toe die verdagtes ingebreek het, en toe gaan ondersoek instel het. Hy het hulle waarskynlik in die gang betrap. Ek dink dit is waar die eerste skoot geskiet is, want ek het ’n paar klein bloedspatsels hiér geïdentifiseer. Die vermoede is dus dat die eerste skoot hier geskiet is.”

Volgens Gryvenstein het Pretorius hom terug na die sitkamer gehaas, want daar is ook handmerke teen die muur langs die televisie opgetel.

Daar is nog skote op hom afgevuur, en Pretorius het langs die televisie inmekaargesak. Craucamp, wat nog op die bed gelê het, is daar geskiet, en die projektiel is in die matras gekry. Beide is met ’n 9mm-pistool doodgeskiet.

Om beter insig te gee oor hoe die woning binne lyk, het Gryvenstein verduidelik: “As jy by die voordeur inkom, is jy in die sitkamer met die televisie reg voor jou. Daar is van hier ’n skuins muurtjie wat na die gang lei en waar die drie kamers geleë is.”

Dit was wyd bekend dat Craucamp altyd ’n vuurwapen by haar gedra het, maar dit was nie duidelik of die wapen moontlik gesteel is nie. Gryvenstein het egter vanoggend vroeg ook bevestiging gekry dat haar wapen in die kluis in haar woning in Hoedspruit gevind is.

Pretorius se 9mm-pistool in die holster is egter in die kamer op ’n kas gekry. “Ons kan nou ook bevestig dat twee selfone gesteel is.”

Die ondersoek vorder baie goed. “Ons het baie beeldmateriaal van die publiek ontvang, en die groot taak nou is om al die inligting te ontleed. Wat wel vasgestel kon word is dat daar ’n baie goeie prentjie gevorm kan word van waar die ingang- en uitgangroetes van dié booswigte is,” het Gryvenstein gesê.

Kringtelevisiebeeldmateriaal wys hoe die drie na die tyd elders in Steiltes weghardloop. Een verdagte dra ’n groot voorwerp. Die gehalte van hierdie materiaal is effe onduidelik, en die span gaan nou probeer ontleed wat dit moontlik kan wees.

“Al wat ons nou belemmer is die vakansietyd, want baie van die dienste en mense wat ons met die ondersoek moet ondersteun is tans met verlof, en van die prosesse sloer ’n bietjie. Ek sou graag wou hê dat ons die uitslae van sekere inligting wat ons dringend nodig het, vinniger kon kry.”

Jaco Craucamp, eggenoot van Ilonka, het ook vanoggend aan Laevelder gesê dat hy en Melane Pretorius, Shawn se eggenoot, ook vir vinnige antwoorde hoop. “Ek en Melane wil graag hê die ware omstandighede rondom die gebeure moet so gou moontlik deur die ondersoek uitgepluis word.”

Ilonka Craucamp. Foto: Facebook.

Terwyl die privaat ondersoekspan fluks vorder, hoop Craucamp dat die polisie dit ’n prioriteitsaak maak sodat die skuldiges vasgetrek kan word en die waarheid oor die voorval vinnig na vore kom.

Melane het intussen gister in ’n inskrywing op haar Facebook-blad hulde aan Shawn gebring. “Shawn Pretorius, vir jou het ek bitter baie lief gehad. Liefde van my lewe. Dis so swaar! Ek en die kinders gaan jou so bitter baie mis. Ek weet jy’s veilig by Vader se voete en dat jy daar bo met Henré in jou arms sit. Rus sag, my man. Tot ons mekaar weer eendag sien.”

Shawn Pretorius. Foto: Facebook.

Sy verwys na hulle babaseuntjie, Henré, wat in Mei 2010 oorlede is. Sy bring elke jaar in Mei op haar Facebook-profiel aan hom hulde.

Gryvenstein doen steeds ’n beroep op die publiek en die inwoners van Steiltes om enige inligting, veral kringtelevisiemateriaal, met die span te deel, en vir Callen Herbst by 082 895 9368 te skakel.

 
Back to top button