Local news

Mbombela-gemeenskap neem afskeid van Wendy

Wendy Oertel se vriende en familie het op 4 Januarie van haar afskeid geneem in ’n herdenkingsdiens by die Grace Family Church.

’n Herdenkingsdiens is op 4 Januarie by die Grace Family Church deur van Wendy Oertel se familie en vriende bygewoon.

Die herdenkingsdiens is deur haar swaer, past. Kelvin Fincham, Kaycee se pa, waargeneem. Tydens die diens is foto’s van Oertel saam met familie en vriende op die grootskerm gewys. Dit was ’n aanduiding van hoe geliefd sy was. Hulle het ook staaltjies van haar vertel.

Lees ook: Laeveld-vrou op haar verjaardag op Limpopo-pad dood

Die herdenkingsdiens by die Grace Family Church. > Foto: Yolandi Hyman

In die herdenkingsprogram skryf Kaycee: “Tannie was my rolmodel, omdat Tannie altyd positief was en altyd almal in ’n goeie bui gesit het. Ek kan nie glo ek moet sonder Tannie lewe nie.”

Wendy Oertel (38) het op haar verjaardag, Desember 26, in ’n motorbotsing naby Letsitele op die berugte R529 gesterf. Die 15-jarige Kaycee Fincham, ook van Mbombela, is in dieselfde ongeluk beseer, en haar vriend, Heino Meiring (18), wat bestuur het, is lig beseer.

Hulle was vanaf die ATKV Eiland Spa in ’n sportnutsvoertuig na die Laeveld onderweg. Hulle was ongeveer 30 km van die oord af toe hulle net ná 09:00 trompop met ‘n minibus gebots het. Oertel, wat glo agter gesit het, is op slag dood.

Die botsing het Kaycee met lewensbedreigende beserings gelaat, insluitende breuke aan haar kaak en neusholte, krake aan vier van haar werwels, beserings aan haar milt en lewer, en bloeding en vog op haar longe. Sy is op Januarie 3 uit Mediclinic Nelspruit ontslaan. Volgens Kelvin herstel sy tuis. Sy sal vir die volgende ses weke ’n nekstut, voetstut en armslinger vir haar sleutelbeen dra. Hulle glo dat sy die nuwe skooljaar saam met haar vriende sal kan begin.

Lees ook: Kaycee Fincham herwin bewussyn na motorongeluk in Limpopo

 
Back to top button