Local news

Geliefdes groet slagoffers van Kersdag-dubbelmoord

Die slagoffers van die Kersdag-dubbelmoord, Ilonka Craucamp en Shawn Pretorius is tydens afsonderlike herdenkingsdienste deur hul naastes gegroet.

Ilonka Craucamp en Shawn Pretorius, slagoffers van die Kersdag-dubbelmoord wat Mbombela en Hoedspruit geruk het, is tydens afsonderlike herdenkingsdienste deur hul naastes gegroet.

Craucamp se lewe is op Dinsdag, 9 Januarie, ‘vrolik en kleurvol’, soos haar familie versoek het, by The Equine House op Zandspruit net buite Hoedspruit gevier.

Haar familie en die Hoedspruit-gemeenskap, almal in vrolike kleure geklee, het in die perdestalle hulde aan dié jong ma met haar borrelende persoonlikheid gebring.

Lees ook: Dubbele moordsaak in Mbombela: Gemeenskap se samewerking dra by tot ondersoek se vordering

Craucamp was ‘n kranige ruiter en ‘n groot gees in perdrykringe, en besonders gelukkig as sy stewig in ‘n saal op ‘n perd gesit het. “Sy sou dit gelove het,” het ‘n vriendin oor die keuse van die venue opgemerk.

Past. Leon Erasmus, wat die diens behartig het, het haar goed geken en het sy boodskap op haar lewenslus en die impak wat sy op almal om haar gehad het, gebaseer.

Die Skriflesing was Romeine 15:13: “Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees.”

Craucamp se herdenkingsblad het boodskappe van haar twee dogters bevat. Daar was ook ‘n aantal blaaie met foto’s van haar saam met haar familie en vriende.

Haar man, Jaco, het nie tydens die diens gepraat nie, maar ‘n stemboodskap van haar oudste dogter is gespeel, en ‘n jong vriendin het ‘n liedjie gesing.

Ilonka Craucamp se lewe is Dinsdag, 9 Januarie, gevier. > Foto: Facebook

Lees ook: Nuwe inligting oor dubbelmoord in Mbombela werp baie lig op saak

Pretorius se diens is Saterdag 6 Januarie by Francine’s Farmhouse and Venue naby Hoedspruit gehou en deur ‘n leraar van Yeshua – Die kerk van Christus, behartig. Die diens is ook op Facebook gestroom.

Die Skriflesing was Johannes 14:27, waar Jesus sê: “Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld wees nie, en julle moet nie bang wees nie.”

Die boodskap was dat die grootste tragedie wat ‘n mens kan tref, dit is wat jy nie sien kom het of verwag het nie. Die leraar het genoem dat die dood soms nie sin maak nie, en ook dalk onregverdig mag voorkom. Die leemte is nou daar; om Pretorius nooit weer raak te loop, langs die sportveld te sien of sy lag te hoor nie.

Die toets van geloof gaan vir almal in die dae wat voorlê ‘n uitdaging wees. Die boodskap het troos gebring dat God elke traan sien en al hul vrese ken, en dat al die geliefdes nie alleen is nie.

‘n Huldeblykvideo met foto’s wat Pretorius se lewe uitbeeld, het ‘n treffende montage van sy lewe geskets en saamgevat. ‘n Familievriend het namens Pretorius se vrou, Melane, en hul seuns die plaaslike gemeenskap wat die familie so in hierdie moeilike tye ondersteun het, bedank. “Hier is engelmense in die dorp; julle weet dit nie,” het hy gesê. Hy het Jaco Craucamp ook uitgesonder, wat sy laaigraaf beskikbaar gestel het om Pretorius se graf te grawe.

Op haar Facebook-blad bring Melane steeds deurlopend hulde aan haar man. ‘n Onlangse inskrywing lees: “…waar jy eens was… die laken is gekreukeld, maar net aan my kant van die bed, daar waar jy eens was is dit glad, koud en leeg…”

Op 28 Desember, drie dae na sy afsterwe, het sy geskryf: “Shawn Pretorius, vir jou het ek bitter baie liefgehad. Liefde van my lewe. Dis so swaar! Ek en die kinders gaan jou so bitter baie mis. Ek weet jy’s veilig by Vader se voete en dat jy daar bo met Henré in jou arms sit. Rus sag, my man. Tot ons mekaar weer eendag sien.”

Shawn Pretorius. > Foto: Facebook

Beide Ilonka en Shawn was in die proses om van hul eggenote te skei nadat ‘n jare lange verhouding weer onlangs vlamgevat het. In ‘n onderhoud met Laevelder het Jaco bevestig dat Ilonka reeds 12 jaar gelede die eerste keer met Shawn in ‘n verhouding was.

Die egpaar het toe geskei, maar twee jaar later het beide partye na hul gesinne teruggekeer. In 2017 het die Craucamps weer getrou, tot die verhouding aan die einde van 2023 weer aan die lig gekom het.

Die twee paartjies was almal eers hegte vriende, maar sedert die gebeure jare gelede het Jaco nooit weer met Shawn gepraat nie. “Hy het [vroeër] soos ‘n broer in ons huis grootgeword,” het Jaco gesê.

Albert Gryvenstein van Bossies Community Justice en AG Solutions, wat die privaat ondersoek lei, het Woensdagoggend aan Laevelder gesê hulle is nog druk besig daarmee.

Die gemeenskap van Steiltes, waar die moorde plaasgevind het, het sedertdien hul bekommernis oor die misdaad in dié gebied op verskeie WhatsApp-groepe en Facebook uitgespreek.

Foto’s van verdagte voertuie en mense word gereeld gedeel.

Verskeie sekuriteitsmaatskappye staan die gemeenskap egter by deur so spoedig moontlik hierop te reageer.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button