Beweerde waterpypsaboteur kom in die Nelspruit Landdroshof voor
Jacques Grundlingh, ’n ploteienaar by die Isinga-kleinhoewes, wat daarvan verdink word dat hy sy bure nou al jare teister deur hulle water af te sny, het vandag in die hof verskyn. Dit volg nadat ’n klagte van opsetlike saakbeskadiging by die polisie en die Menseregtekommissie teen hom aanhangig gemaak is.
Jacques Grundlingh (36), wat na bewering al vir drie jaar inwoners van die Isinga-kleinhoewes teister deur met hulle watertoevoer te peuter, het sy rieme styfgeloop.
Hy is vanoggend in hegtenis geneem en het in die hof verskyn. Laevelder het vroeër berig oor hierdie inwoners se waterpype wat in ’n stadium bykans daagliks afgesny is.
Die pype verskaf water vanuit die kanaal van die Friedenheim Besproeiingsraad. Die kanaal is ondergronds, maar is by Isinga vir 600 m bo grond. Dit is gedoen om plotbewoners makliker toegang tot water te gee.
Daar is ook op verskeie plekke potte met sluise teen die kanaal gebou waaruit water onttrek kan word. Vir jare lank het die inwoners geen probleme met watertoevoer gehad nie, totdat Grundlingh drie jaar gelede Plot 6 gekoop het.
Die 600 m oop deel van die kanaal grens aan Grundlingh se plot en is ’n registreerde serwituut ten gunste van die besproeiingsraad. Ten spyte hiervan hou Grundlingh vol die kanaal behoort aan hom en dat niemand water daaruit mag onttrek nie.
Nie net is hy glo verantwoordelik vir die afsny van pype nie, maar het hy selfs na bewering die potte, wat van baksteen gebou is, laat afbreek.
Een van die beswaarde inwoners, Sizwe Shabangu, het reeds verlede jaar ’n klag van opsetlike saakbeskadiging teen Grundlingh aanhangig gemaak. Hy het ook ’n klag by die Menseregtekommissie ingedien. Ten spyte hiervan het Grundlingh glo met sy veldtog volgehou.
“Die inwoners is verby moedeloos oor sy onversetlike optrede,” het Paula Nagel gekla.
Hulle kry al vir 24 jaar water vanuit ’n dam wat deur die kaneel gevoer word. Die dam is op Grundlingh se plot geleë, en Nagel sê die vorige eienaars het jare gelede reeds amptelike toestemming gegee dat hulle water mag onttrek.
Grundlingh het na bewering hulle pype telkens afgesny en selfs sover gegaan om die dam met ’n elektriese heining toe te span.
Lees ook: Beweerde swendelaar van Marlothpark in die hof
Verlede week het die Nagels ’n nuwe 150 m lange pyp installeer om voortaan water direk uit die kanaal te onttrek. Selfs die pyp is verlede Donderdagaand, 15 Februarie, afgesny en ’n 15 m-lengte daarvan is verwyder.
Grundlingh het vroeër by navraag van Laevelder deur sy prokureur, Corrie van Vuuren, ontken dat hy enigsins by dié sabotasie betrokke is. Van Vuuren het gesê sy kliënt is bewus van die serwituut en dat hy dit ‘respekteer’.
Gemoedere is ’n maand gelede só op die spits gedryf toe hy deur die inwoners gekonfronteer is, dat Grundlingh glo ’n vuurwapen op hulle gerig het.
Johan van Heerden het hierna ’n klag hieroor by die polisie ingedien. Grundlingh het vanoggend saam met Van Vuuren by die polisie aangemeld. Kapt. Magonseni Nkosi, ’n provinsiale polisiewoordvoerder, het bevestig dat Grundlingh op borgtog van R500 vrygelaat is.
Die saak is tot 22 Maart vir verdere ondersoek uitgestel.
