‘n Fees van toneeldebute by vanjaar se Innibos
Bekende akteurs sal oudergewoonte vanjaar hulle buiging in verskeie dramas en komedies maak.

Teatergangers wat lank reeds uitgehonger vir goeie toneelstukke is, kan maar hulle sit kry vir vanjaar se keurspyskaart tydens die Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees, waaronder vier debuutstukke verskyn.
Daar is dramas wat jou sal laat nadink oor verlies, verhoudings op verskeie vlakke en berusting, terwyl die komedies welkome verligting verskaf, hoewel dit steeds heelwat stof tot nadenke bied.
Een van die hoogtepunte is beslis om die ervare aktrise Rika Sennett weer op die verhoog te sien in die stuk Forté, saam met medespeler en Fiëstawenner Adriaan Havenga. Sennett speel die rol van ‘n wêreldbekende tjellis wat ná haar man se dood nie weer ‘n noot speel nie. Dan daag ‘n jong man ongenooid by haar huis op en boonop blyk dit dat hy haar ten diepste ken. Dit is ‘n raaisel, en die klimaks lê net soveel in die ontknoping daarvan as in die besondere sterk samespel tussen Sennett en Havenga.
Die teks is deur Pierre-André Viviers geskryf en die stuk is deur die Nasionale Afrikaanse Teaterinisiatief (NATi) moontlik gemaak. Die kaartjies kos R190 (Mbombela Stadsteater).
Verhoudings, dié keer tussen ‘n seun en sy pa, is die tema in Albatros, met Louw Venter en Ben Albertyn. Venter, bekend vir verskeie filmrolle, waaronder Konfetti, is ‘n pa wat sy seun alleen moes grootmaak. Wanneer dié self ‘n jong man is, doem die spoke uit pa en seun se verlede op. Hoe die mans wat so moeilik iets te sê kry hul weg na mekaar vind, is tegelyk tragedie én komedie, en beslis ook pitkos. (Ook moontlik gemaak deur NATi.) Kaartjies kos R190 (Mbombela Stadsteater).
In die eenmanstuk Ballade vir ‘n blikbrein skitter Luan Jacobs as Blikkies Bliknaut, ‘n robot wat soos ‘n mens lyk, maar hiperslimmer en hipersterker is. Die teksskrywer Barry van Rensburg en regisseur Kaz McFadden tower ‘n rol vir Jacobs op as bliksiel wat deur algoritmes voorgeskryf word, maar wie se grootste wens is om emosie te ervaar. Dit is ‘n vars, deurdagte en humoristiese aanslag van ‘n tema waaroor menigeen van ons wonder met die opkoms van kunsmatige intelligensie. Kaartjies kos R180 (Mbombela Stadsteater).
Wynand von Vollenstee klim vanjaar uit sy vertroude Grotman se velle en meld by die hospitaal aan. Saam met hom op die verhoog is Marissa Claasen, Tiart Li en Stephanie Baartman in Hospitale, kateters en familielede. ‘n Mens weet sommer reeds hier kom
‘n ding wat jou gaan laat lê van die lag.
Presies hóé absurd dinge in ‘n hospitaal kan word, word uit 14 verskillende karakters se invalshoeke vertel. Iewers gaan die kyker ‘n situasie of drie herken. Daar is self ‘n Duitse herdershond… Kaartjies kos R190 (Laerskool Bergland).
Die volledige program en speeltye is by innibos.co.za. Kaartjies is by Ticketpro te koop (ticketpros.co.za of volg die skakel vanaf Innibos se webwerf.)