Local news

Laeveld-vrou binnekort op TV-werklikheidsreeks

Monique Hobkirk sal eersdaags in hierdie werklikheidsreeks op kykNET meeding en - wie weet? - dalk met die prysgeld van R1 miljoen wegstap.

Die Laeveldse somatoloog, Monique Hobkirk (42), is een van die 16 stadsjapies wat eersdaags die stadsliggies vir die plaasvlaktes gaan verruil, in die jongste seisoen van kykNET se werklikheidsreeks, Plaasjapie.

Die tweede seisoen begin op 18 April om 20:00. Die program is soortgelyk aan die Survivor-oorlewingsprogram. In ‘n poging om R1 miljoen te wen gaan die stadsjapies boerdery in die Swartland, Wes-Kaap, aanpak. Die deelnemers moet ‘n verskeidenheid boerderyaktiwiteite en -uitdagings wat hul uithouvermoë of wilskrag toets, aanpak – sonder katoeters of moderne tegnologie.

Hobkirk vertel dat sy besluit het om vir die program in te skryf omdat sy glo dit vet pret sal wees en vir haar ‘n uitdaging sal wees, en dat die R1 miljoen-prysgeld handig te pas sal kom.

Sy sê dat sy al vir die eerste seisoen van die werklikheidsreeks gekies is, maar dat sy ongelukkig die geleentheid van die hand moes wys. “Nou weet ek alles gebeur op God se tyd, nie myne nie,” sê sy.

Hobkrik glo dat haar aanpasbaarheid, humorsin, mensekennis en nederigheid van haar ‘n kompeterende deelnemer in die werklikheidsreeks sal maak.
Laevelder het die somatoloog gevra of daar enige skoonheidsproduk is wat sy eenvoudig moes saamneem uitdaging toe. Sy vertel dat sy sonroom as die belangrikste skoonheidsproduk beskou, en dat sy ‘n drie-in-een-sonroom saamgeneem het. “Sonroom beskerm die vel teen pigmentasie en veroudering,” sê sy.

Indien sy die prysgeld wen sal sy haar motor afbetaal, geld vir haar oudag wegsit, geld vir haar kinders, Jake en Amie, wegsit, en iets vir minderbevoorregtes doen.

Lees ook: Laevelders geniet langarmdans by Oewersig-saal

Hobkirk deel haar raad vir toekomstige deelnemers aan die program: “Wees jouself. Moenie dinge oordink nie. Speel om te wen.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button