Local news

Musiekteater gaan jou by Innibos oorrompel

Innibos-feesgangers kan uitsien na ’n skouspel in die Sudwala-grotte, ’n ‘boy band’-vertoning soos min, optredes deur legendariese sangers en woord- en lied-optredes deur akteurs.

Vanjaar bied Innibos musiekteater aan met van die land se langpadtroebadoers, ’n skouspel in die Sudwala-grotte en ’n boy band soos van ouds, tot van die beste sangers en akteurs van woord en lied op die verhoog.

Indien jy verkies om jou musiek in kleiner maat opgedis te kry en in ’n knus omgewing, is Nataniël se vertoning op Donderdag, 27 Junie, in die Sudwala-grotte iets wat jy nie wil misloop nie. Soos altyd kan jy ’n skouspel verwag, maar ook stories wat aanspraak maak op deernis en met daardie ietwat aweregse blik wat Nataniël op die alledaagse bied.

Soos oudergewoonte word Nataniël deur Charl du Plessis, gerekende Steinway-pianis, begelei, en met die uitsonderlike akoestiek van die grotte sal konsertgangers meegevoer kan word. Kaartjies kos R300.

Lees ook: Innibos 2024 beloof om ’n wenresep te wees

Noem die name Valiant Swart en Koos Kombuis in een asem, en ’n mens word sommer oorval met nostalgie van toe dié manne jare gelede op die musiektoneel verskyn het. Elkeen het sy eie stempel afgedruk en het suksesvolle sololoopbane, maar by Innibos is hulle vir die eerste keer in ’n lang tyd weer saam op die verhoog. Vir musikale bystand is die kitaarspeler Illimar Neitz daar om afronding aan ’n keurvertoning te gee. Kaartjies kos R190 (Hoërskool Nelspruit Ouditorium).

Boy bands is deesdae miskien nie meer so volop soos ’n klompie jare gelede nie, maar daar is darem min wat by die energie en harmonie van ’n klomp geoefende manne kers kan vashou.

Lees ook: IN PHOTOS: Innibos joins 2023 Mpumalanga Cultural Xperience parade

Dít kry jy alles in die vertoning Boys R Back – The Ultimate Boy Band Show met Germandt Geldenhuys, Lee Scott, Reynardt Hugo, Ruan Josh en Willem Botha.

Daar is Westlife se ballades, die ongetemperde energie van Backstreet Boys, treffers van One Direction, ook musiek van NSYNC, Hi-5 en die jongelinge van destyds, Eden. Gaan op ’n heerlike reis terug na die verlede en laat die musiek jou dinge en tye onthou wat jy al lankal vergeet het. Kaartjies kos R200 (Höerskool Nelspruit Ouditorium).

Mixtape van die liefde is veral vir diegene wat ’n voorliefde vir sterk lirieke het. Al is dit ’n stewige ensemble wat hulle talente hier in een pot bymekaar roer, is dit ’n meer intieme musiekteaterervaring. Saam met Anna Davel, wat die teks saamgestel het uit ’n bloemlesing byeengebring deur Antjie Krog, is Jana Cilliers, Mathys Roets, Johny Klein, Stephanie Baartman, Laurinda Hofmeyr en Leon Gropp. Hofmyer en Gropp doen ook die musiekregie.

In die vertoning is dit liefde boweals, maar die stemme is divers en reik oor temas, kultuurgroepe en generasies heen. Dit is beslis ook nie net oor rooskleurige liefde nie, want ja, liefde is soms morsig en kan mense bietjie mallerig maak.

Gee jou oor daaraan. Kaartjies kos R200 (Hoërskool Nelspruit Ouditorium).

Die volledige Innibos-program is by innibos.co.za beskikbaar. Alle kaartjies is by Ticketpro (ticketpros.co.za) te koop.

 
Back to top button