Local news

Kroeë verban Mbombela-man met vinnige vuiste

Na nog ’n onderonsie in ’n kuierplek in Mbombela, en beloftes dat daar nie weer moeilikheid gemaak sal word nie, het die vuiste maar net weer van vooraf geswaai – glo ‘per ongeluk’.

Cowboys don’t cry! En toe drink hulle éérs!

Dit was die reaksie van Chris Richter, wat in die wandelgange van die onderskeie kroeë in die stad as ’n ‘skobbejak’ beskryf word, nadat hy en een van sy beste vriende, Johan Fick, mekaar Vrydagaand, 10 Mei pimpel en pers geslaan het.

Richter, ’n 34-jarige boer van Brondal, se vinnige vuiste het gesorg dat hy al by menige drinkplekke in die stad verban is.

For the English translation of the article, click here: Mbombela brawler banned from several pubs

Rudi Schoeman, eienaar van die Vintage Lapa agter Canary Walk Mall, het bevestig dat hy Richter alreeds ’n geruime tyd gelede verban het.

“Ek belowe Oom ek gaan nie moeilikheid maak nie. Ek is net hier om ’n paar doppe te maak.”

Só vertel Schoeman van Richter se belofte tydens ’n gesprek tussen hulle toe hy Vrydagaand sien Richter daag by sy kroeg op. Skaars ’n uur later toe klap die vuiste.

Lees ook: KwaZulu-Natal-wildkoper kry sy kwartmiljoen veilig terug ná daar van krokodil niks af kom nie

“Ja, jong. Dit lyk my die k*k kom maar altyd na my kant toe. Daar is mos altyd die laaities wat jou kom uittoets,” vertel Richter.

In ’n openhartige gesprek met Laevelder sê Richter die geveg tussen hom en Fick het eintlik ‘per ongeluk’ gebeur.

“Ons was in die kroeg om ’n paar kappe te maak. In ’n stadium het ek gesien Johan en ’n ander laaitie het woorde. Ek is nie seker hoekom en waaroor hulle gestry het nie. Ek het opgespring om tussenbeide te tree, maar was seker vyf sekondes te laat. Toe is die geveg reeds aan die gang. Ek het Johan en die laaitie uitmekaar probeer kry. Toe m*er Johan my ook. Hy was onder die indruk ek wou hom ook d*nner.”

Die volgende oomblik het dit soos ’n bondelsport gelyk toe die manne in die kroeg aanmekaargespring het, vertel ’n ooggetuie wat anoniem wil bly.

Lees ook: Marlothpark moet moontlik dierebevolking uitdun om ekologiese ramp vry te spring

“Ek het in ’n donker hoekie gesit en drink. Die klomp vegters is die kroeg uit en in die parkeerterrein het die vuiste verder geklap. Hoe laat dit gebeur het kan ek nie sê nie. Ek was toe al lekker onder die prop! Een van die vroue wat daar was het my selfs met ’n jam jar teen die kop geslaan. Die bloed het geloop,” vertel Richter.

Volgens hom het hy en Fick ná hulle bakleiery buite hande geskud en vrede gemaak, en is terug binnetoe om verder te kuier. “Hy het bly om verskoning vra, maar ek het gesê dis nou alles verby. Ons is steeds tjomme.”

Fick sit nou met twee dik geslaande oë.

“Ek gaan nooit weer na enige van die kuierplekke in dié dorp toe gaan nie. Dit is ’n insident waarvoor nie ek of hy gevra het nie,” het Fick aan Laevelder gesê.

Hy wou geen verdere kommentaar lewer nie.

  Hier is Richter verban:

  • Mustangs – The Dancing Place: Jaco Swart, die eienaar, het bevestig hy het Richter verbied om weer daar te kom.
  • Bahati Amakiti, Witrivier: Daar was so drie of vier maande gelede ’n voorval daar, waarna hy verban is. Boela van den Bergh, die eienaar, sê Richter is egter nie by sy ander kroeg, Lions Pub & Grill, verbied nie.
  • Marlin Pub & Grill: Chris Naudé, die eienaar, sê dat die gerugte dat Richter by hom verbied is, onwaar is. “Daar was een voorval, maar ek het hom dadelik gewaarsku. Sedertdien het ek geen probleme met hom nie.”

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button