Local news

Speel lag-lag klaar met sorge tydens vanjaar se Innibos

Vanjaar se Innibos-produksies beloof om vanuit die boonste rakke te wees, en teatergangers is reeds besig om hulle voor te berei vir al dié skitterende produksies.

’n Voortreflike reeks komedies om die gemoedere te lig is by vanjaar se Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees te sien.

Die fees duur vanaf 27 tot 30 Junie.

Hospitale en wat daarmee gepaardgaan is geen grap nie, maar soms is ’n skaterlag of meer ’n dag presies wat nodig is om weer beter te voel. Die talentvolle Wynand van Vollenstee is die teksskrywer en regisseur van die Innibos-komedie, Hospitale, kateters en familielede, én is op die verhoog in hierdie skreeusnaakse debuut te sien. Saam met hom in die rolverdeling is Stephanie Baartman, Thiart Li en Marissa Claasen.

LEES OOK: Innibos 2024 beloof om ’n wenresep te wees

Die vier akteurs vertolk altesaam 14 verskillende karakters wat in ’n hospitaal verskeie onvermydelike misverstande, verwarrende mediese prosedures en ’n bedenklike spyskaart die hoof moet bied om gesond te word. Daarby is die toestand van die mediese toerusting maar so-so. Dis asof slegs die skelhelder buisligte wat dag en nag brand, al is wat werk.

As daar egter een ding is wat Suid-Afrikaners kan doen, is dit om tragiese oomblikke in iets verkwikkend humoristies te omskep. In die talle gevalle wat die meeste mense iets van sal herken, is die deurlopende draad van omgee en hoe mense mekaar deur selfs die donkerste uur kan bystaan. Hospitale, kateters en familielede is op Donderdag, 27 Junie om 16:00, Vrydag, 28 Junie om 10:00 en Saterdag, 29 Junie om 15:00 by Laerskool Bergland te sien. Kaartjies kos R190.

Nico Luwes, die bekende dramaturg en skrywer, voorheen verbonde aan die departement drama en teaterkuns aan die Universiteit van die Vrystaat, het ’n kortverhaal van die Russiese meesterskrywer Anton Tsjechov verwerk as ’n klug waarmee menige rooiwynliefhebbers sal kan vereenselwig. Ou Wyntoon en die weerlose kreatuur gaan oor wanneer dit voel ‘asof sewe perdebye jou onder die toonnael gesteek het’, en dit boonop vererger word deur ’n kermende vrou met haar eie agenda. Sy is ook glad nie so weerloos soos sy voorgee nie.

LEES OOK: Musiekteater gaan jou by Innibos oorrompel

Luwes se belangstelling in Tsjechov, ook die skrywer van die bekende Die kersieboord, duur al dekades en hy het voorheen verskeie stukke verwerk.

Esther von Waltsleben, Johann Nel en Jan Hendrik Opperman is die trio wat teatergangers aan die skaterlag gaan hou. Klugte is heerlik oordrewe en nét die ding om jou van die alledaagse sorge te laat vergeet.Kaartjies kos R190 en dit is op Donderdag, 27 Junie om 10:00, Vrydag, 28 Junie om 16:00 en Saterdag, 29 Junie om 10:00 by Laerskool Laeveld te sien.

Schalk Bezuidenhout is slimmer, skerper en snaakser as ooit tevore in Mamma se groot seun. Dié stand-up debuteer by Innibos Kunstefees en aanhangers moet beslis nie gras onder die voete laat groei om kaartjies in die hande te kry nie. Daar is slegs een vertoning van Mamma se groot seun, wat op Saterdag, 29 Junie om 12:00 in die Hoërskool Nelspruit Ouditorium plaasvind. Kaartjies kos R180.

Vir die volledige Innibos-program, klik hier.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Bertus de Bruyn

Bertus de Bruyn is based in Mbombela, Mpumalanga. De Bruyn has been employed by Caxton since 2009. After a short sabbatical of two years, De Bruyn is back at the place he called home, Caxton, at Lowveld Media. He is currently the digital content manager, but has 14 years of journalism skills, news editor, and acting editor duties behind his name.
Back to top button