Local news

Vrou vas ná brief oor beweerde bomplantings in Mbombela

'n Vrou is in hegtenis geneem en sal na verwagting vir sielkundige waarneming verwys word, nadat sy in 'n brief beweer het daar is verskeie bomme in die stad geplant.

‘n 38-jarige vrou is verlede Vrydag, 28 Junie, aangekeer nadat sy glo in ‘n onsamehangende brief gedreig het dat bomme op verskeie plekke in Mbombela geplant is.

Aneke Buitendag (volgens die klagstaat is sy Annelie) is vasgetrek nadat sy die brief aan ‘n plaaslike radiostasie gestuur het.

In ‘n mengelmoes van Afrikaans en Engels skryf sy dat daar bomme by Innibos se feesterrein by Hoërskool Bergvlam, St Peter’s School en Hoërskool Nelspruit geplant is.

LEES OOK: ‘Geraamtes’ wat begrawe is dreig om op Facebook uit te klim

In die brief, wat deurspek is met spel-, taal- en grammatikale foute, rammel sy ook aan oor jong kinders en oumense wat ‘verkoop’ en ‘gemartel’ is. Sy beweer hulle is vir ‘menslike eksperimentasie’ gebruik.

‘n Klag is deur John Meintjes, voorsitter van die Nelspruit Gemeenskapspolisiëringsforum, by die polisie ingedien.

Om haar op te spoor was glo nie juis moeilik nie, omdat sy haar e-pos, waarin sy die skuilnaam ‘geenomgeesa’ gebruik het, afgesluit het deur haar selfoonnommer bekend te maak.

Volgens kapt. Zandile Gqawa, die Nelspruit SAPD-woordvoerder, is Buitendag in hegtenis geneem en het sy Maandag 1 Julie vlugtig in die hof verskyn.

Sy het in aanhouding gebly en het Dinsdag, 2 Julie wéér verskyn.

Buitendag se saak is tot Maandag 8 Julie vir ‘n amptelike borgtogaansoek uitgestel. Sy het aansoek gedoen vir regshulp en bly in aanhouding.

Daar word verwag dat daar tydens haar volgende verskyning aansoek gedoen sal word om haar vir sielkundige waarneming te verwys.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Bertus de Bruyn

Bertus de Bruyn is based in Mbombela, Mpumalanga. De Bruyn has been employed by Caxton since 2009. After a short sabbatical of two years, De Bruyn is back at the place he called home, Caxton, at Lowveld Media. He is currently the digital content manager, but has 14 years of journalism skills, news editor, and acting editor duties behind his name.
Back to top button