Local news

Lydenburg-pa se hartroerende uitspraak ná boelie sy dogtertjie teiken

Die 10-jarige Mianay moes Donderdag 'n noodoperasie ondergaan nadat haar gewrig tydens 'n bullebakkery gebreek is.

‘n Geboelie en ‘n leerder wat glo met opset by Laerskool Lydenburg laat struikel is, het sosiale media in rep en roer.

Die 10-jarige Mianay Sinden, ‘n gr. 5-leerder, het ligte harsingskudding en ’n erg gebreekte gewrig opgedoen toe sy teen ’n stel trappe geval het.

“Die voorval het Woensdag tydens klaswisseling plaasgevind,” sê Gerhard, haar pa. “Mianay het vinnig geloop om by die volgende klas te kom toe sy deur ’n leerder, wat saam met ander in ’n gang gestaan het, gepooitjie is.”

Sy het geval en haar boeksak het oor haar gevlieg, wat veroorsaak het dat sy haar kop teen die trappe stamp.

“Sy het met haar linkerhand probeer keer, maar het in die proses haar gewrig gebreek,” sê Gerhard.

LEES OOK: Vuur by Xai Xai oord: Hengelaars op bote sien hoe huise begin brand

Ná die voorval was die kind baie verward en is deur ’n onderwyser na die skool se siekeboeg geneem.

“Behalwe vir die pyn is my kind geweldig ontsteld en voel sy vernederd omdat die ander kinders vir haar gelag het. Sy sê reeds dat sy daarna opsien om weer skool toe te gaan.”

Mianay het Donderdag ‘n noodoperasie ondergaan toe haar gewrigsbene met onder meer ‘n plaat geheg is, en is Vrydagoggend ontslaan.

“Dit gaan baie beter met haar. Sy het vir fisio gegaan en nou is dit die lang pad na herstel,” sê Gerhard. Hy noem hy is geensins kwaad vir die skool of die sondebok nie. “Ek wil net hê ouers en skole moet meer gewag maak om die gevare van boelie en pooitjie aan hulle kinders uit te wys.”

Gerhard se plasing op Facebook het binne ure massiewe reaksie ontlok. Nie net is die plasing meer as 10 800 keer gedeel nie, maar dit het ook 2 500 reaksies gekry en bykans 840 kommentare ontlok.

Klik op die skakel: https://t.ly/eXHpp

‘n Skermgreep van die Facebook-plasing. > Foto: Facebook

Annalize Cross, persoonlike assistent van die skoolhoof, het by navraag gesê die skool sal later kommentaar lewer.

Laeveld Media vergader Maandag met die skool.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Bertus de Bruyn

Bertus de Bruyn is based in Mbombela, Mpumalanga. De Bruyn has been employed by Caxton since 2009. After a short sabbatical of two years, De Bruyn is back at the place he called home, Caxton, at Lowveld Media. He is currently the digital content manager, but has 14 years of journalism skills, news editor, and acting editor duties behind his name.
Back to top button