Local news

Eensame ‘Skotse’ graf nog al die tyd dié van ABO-veldkornet

'n Veldkornet wat tydens die Anglo-Boereoorlog in die bloedige slag van Bergendal gesterf het, se laaste rusplek gaan amptelik ingehuldig word.

Dit is onseker of sy mense ooit geweet het wat van die 49-jarige veldkornet Jacobus Gerhardus Roos van Middelburg geword het ná hy in die bloedige slag van Bergendal tydens die Anglo-Boereoorlog (ABO) ernstig gewond is.

Bergendal, buite Belfast, was die laaste konvensionele of opgestelde slag van die oorlog.

Die Zuid-Afrikaansche Polisie-eenheid (Zarps) het met die hulp van ander kommando’s die agterhoede van Paul Kruger se vertrek uit die Transvaal gedek en het vir die twee laaste keer die swaar ZAR-Longtomkanonne geposisioneer om met grofgeskut die oprukkende Britse leër wat hier uit twee flanke toegeslaan het, terug te hou.

LEES OOK: Die geskiedenis van ou Nelspruit se poskantoor

Die Britse oormag het die Boere en uiteindelik die Zarps verdryf van hulle laaste stellings waar die Bergendal-monument vandag langs die N4 gesien kan word.

Een van die manne wat hier gewond was en deur die voortvlugtende Boere meegeneem is, was Roos.

Die bladsy uit ou Rooikruisdokumentasie oor die ABO waar Roos se identiteit uiteindelik bepaal kon word.

Hulle het hom noodgedwonge by die spoorweghospitaal op Waterval Onder agtergelaat. Hy is twee dae later dood, die dag toe die hospitaal in Britse hande geval het.

Die Tweede Bataljon van die Skotse Coldstream Guards, ‘n Britse eenheid wat Waterval Onder beset het, het Roos sonder ‘n naam onder ‘n Keltiese kruis begrawe. Die onbekende staalkruis is nou al byne 124 jaar buite die Britse militêre begraafplaas op Waterval Onder te sien.

Die graf van Jacobus Gerhardus Roos, nou ook met sy naam en besonderhede by.

Twee plaaslike kenners en navorsers van die ABO, kol. Piet Schoeman en dr. Tian Schutte, wat saam al heelwat name by verlore grafte hier teen die platorand en op die Hoëveld bymekaargebring het, het onlangs met navorsing bepaal dat dit Roos is wat daar onder die Skotse kruis rus, en ‘n steentjie met sy besonderhede laat maak.

LEES OOK: Geskiedenis is die fondamente waarop dorp gebou is

Dit word nou op Saterdag, 10 Augustus, byna 124 jaar ná sy dood ingewy.

Die inligting oor Roos kom hoofsaaklik uit ou Rooikruisverslae wat tydens die oorlog gehou is en later vir navorsing beskikbaargestel is.

Schoeman, wat naby Waterval Onder boer, sê die eensame ‘Skotse’ graf so buite die Britse militêre begraafplaas pla hom al sy lewe lank. Hy is dankbaar dat daar nou positief kon bepaal word wie dit werklik was – en dit toe al die tyd een van ons eie mense.

Sluit Saterdag, 10 Augustus, by Mpumalanga Erfenis se besoek aan Waterval Onder en die kort inhuldiging van die Roos-grafsteen aan.

Ontmoet om 07:00 by die KLCBT-infosentrum by Crossing Shopping Centre in Mbombela of om 08:00 by die Krugerhuis op Waterval Onder.

Ander begeleide besoekpunte is onder meer die Krugerhuis, een van die historiese ZAR-dokterswonings op die ou hospitaalterrein, die ou NZASM-tonnel vir ‘n veilige deurstap en die vyfboogbruk onder in die vallei.

Pak ‘n piekniekmandjie vir middagete op ‘n mooi plek langs die Elandsrivier.

Ander begeleide besoekpunte is onder meer die Krugerhuis, een van die historiese ZAR-dokterswonings op die ou hospitaalterrein.

Die uitstappie is gratis.

Skakel Marius Bakkes vir meer inligting by 082 852 7289.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Bertus de Bruyn

Bertus de Bruyn is based in Mbombela, Mpumalanga. De Bruyn has been employed by Caxton since 2009. After a short sabbatical of two years, De Bruyn is back at the place he called home, Caxton, at Lowveld Media. He is currently the digital content manager, but has 14 years of journalism skills, news editor, and acting editor duties behind his name.
Back to top button