Groot Laeveld-reën dalk nog om die draai
Val daar dalk nog vandag op oom Paul se verjaardag vir ons ’n reëntjie? Of bars dit dalk eers later los? Kenners sê hul sê.
Die staaltjie loop mos dat die groot reën ná oom Paul Kruger se verjaardag op 10 Oktober val. Maar ’n staaltjie is ’n staaltjie, en weervoorspellings is presies dit – voorspellings.
Laevelder het by Sakkie Froneman, die kwekery- en plaasbestuurder by Schagen buite Mbombela, gaan kers opsteek. Sy stem warm op as hy praat van die reën, want ’n boerehart roer as daar oor water gesels word, want dit is mos die voedingsaar van die boerdery.
“Die begin van reëntyd in die Laeveld – Oktobermaand, die mooiste maand. Dit is ’n tyd van afwagting en opwinding, maar ook ’n gevoel van onrustigheid oor die hael wat maar al te dikwels die reën se metgesel in ons wêreld is. In Oktobermaand begin die kaal, skynbaar dooie takke van die ou kiaat eerste tekens van lewe toon. Geel blomme verskyn, daarna die sagte, liggroen blare. Ook mitseeri, dopperkiaat, papierbas en vele ander van die inheemse bome ontwaak en begin bot as eerste teken dat die reën op pad is,” sê hy.
Maar wat van 10 Oktober? Steek daar waarheid in?
“Oom Paul se verjaardag is tradisioneel die tyd wanneer die eerste behoorlike bui sal val.”
Maar die natuur laat hom nie voorskryf nie en dit wil voorkom of die reëndatum deesdae aangeskuif het na verby middel Oktober, volgens Froneman.
@lowvelder As predicted by the SAWS, a thunderstorm is currently looming above Mbombela. #weather #thunder #mbombelatiktok #thunderstorms
“Selfs tot November, voor die eerste behoorlike donderstorm die grond versadig. Klimaatsverandering of aardverwarming het waarskynlik baie hiermee te maak,” meen hy.
En ken ons nie almal die weervoorspellers se bekende sêding, “mooi weer en warm”, nie?
Froneman vertel ons meer.
“Ons luister na die weervoorspelling wat praat van ‘mooi weer en warm’ – dit is egter nie wat die boere wil hoor nie. ‘Koel, bewolk met reën’ sou beter verstaan word as ‘mooi weer’ hierdie tyd van die jaar. As die reën wegbly, kan Oktobermaand in die Laeveld vir boere waterbeperkings, swak vrugset en slapelose warm nagte beteken.”
Lees ook: Eeufeesmylpaal vir Koedoes-rugby word in Mbombela gevier
Laevelders ken donderweer alte goed, wanneer daardie wolke opstapel en jy weet lekker reën gaan uitsak.
“Wanneer die tyd reg is, begin die opbou van die kenmerkende blouwit wolke wat soos massiewe blomkole lyk. Dit dreun en blits voor die eerste druppels val – dit het gekom soos altyd, deur al die eeue. Die geluid van druppels op ’n sinkdak is die mooiste musiek en die reuk van vars, nat grond maak ’n nuwe energie van plant- en tuinmaak in jou wakker. Selfs die hael wat skade kan bring het ook sy doel om die nodige snoeiwerk te doen en voeding aan die grond verskaf,” sê Froneman. Hy self wag angstig vir die groot waters.
Laevelder het ook met Edward Engelbrecht, ’n weervoorspeller vir die Suid-Afrikaanse Weerburo, gesêls.
Luidens hom lyk die seisonale vooruitsigte vir reën baie goed, weens die La Nina-fase wat nou begin, wat kenmerkend aan die somerseisoen is.
“Alhoewel daar nog baie onsekerheid oor die uitwerking van die stelsel is, is daar ’n moontike kans op bonatuurlike neerslag,” sê hy.
Maar hy het egter goeie nuus.
“Geen reën word tot Sondag vir die land voorspel nie. Van Maandag, 14 Oktober, is daar ’n bolugtrog wat oor die oos- en weskus van die Kaap beweeg, sowel as ’n koue front. Reënbuie kan vanaf Maandag tot Woensdag vir die oostelike dele van die land verwag word, wat Gauteng en Mpumalanga insluit. Daar is ’n 30 tot 60% kans op reën.”
Froneman sluit dan ook daar van die plaas op Schagen met filsofiese woorde af:
“Met al die tegnologiese kennis wat bestaan, kon niemand nog ooit reën maak nie – dit is ’n gawe en seëning van Bo.”
