Local news

Gewilde tydskrif bloos oor voorbladflater met die Blyde

Die bekende wegbreektydskrif se nuuste uitgawe pronk met wat toe na die tyd vasgestel is ’n foutiewe foto te gewees het, danksy kunsmatige intelligensie.

Is dit kuns of is dit konkel?

Dit is die vraag op talle professionele natuurlandskapfotograwe se lippe oor ‘n foto van die wêreldbekende Blyderivierspoort wat op die voorblad van die Getaway-tydskrif se Oktober-uitgawe gepubliseer is.

Die foto wys wat volgens Getaway ‘n bergtoneel is waardeur die Blyderivier kronkel.

Die canyon, wat bestaan uit kwartsiet en skalierots, is deur die eeue heen so deur erosie uitgekalwe dat dit steil hellings en kranse gevorm het wat op plekke tot 800m hoog is.

Die foto wys onder meer hoe daar ‘n bergpiek in die middel van die rivier is wat ‘n eiland vorm.

LEES OOK: What to do, where to go… Let’s travel 2024

“Die betrokke foto is geensins ‘n weergawe van die canyon nie. Ek is van mening die foto is digitaal gemanipuleer,” sê Des Jacobs, wie se natuurfoto’s al verskeie keer in die tydskrif gepubliseer is.

Hy sê toe hy die foto sien, het hy geweet dat dit inderdaad nie ‘n foto van Blyderivier se skouspelagtige berge en kronkelings is wat deur die canyon vleg nie.

“Ons groep natuurfotograwe het die foto onder oënskou geneem en was dit eens dat die foto digitaal gemanipuleer is. Van die duidelikste kenmerke is dat die rivier nie so lyk nie, daar nie ‘n bergpiek in die middel van die rivier is wat ‘n eiland vorm nie en dat die kranse nie so lyk nie.”

Hy sê dit was ook vreemd dat die tydskrif nie soos gewoonlik die fotograaf se naam op die redaksionele binneblad gepubliseer het nie. “En indien dit wel deur kunsmatige intelligensie gemanipuleer is, moes hulle dit ook bekend gemaak het.”

LEES OOK: Lentedag-waterkaskenades sorg vir groot pret by Laerskool Lydenburg

Dat Getaway, wat deur Habari Media uitgegee word, inderdaad met ‘n slenter gevang is, is deur Megan Paulse, die tydskrif se redakteur, bevestig. “Ons het die foto by ‘n webblad gekoop by wie ons al in die verlede verskeie foto’s verkry het. Nêrens op die webblad word daar aangedui dat die betrokke foto gemanipuleer is nie.”

Paulse sê dit was geensins hulle bedoeling om hulle lesers om die bos te lei nie. “Ons heg groot waarde aan ons lesers en is deur die betrokke webblad mislei.”

‘n Tweede flater wat Jacobs in die drie-bladsy-artikel wat deur Sue Adams neergepen is uitgewys het, was die gebruik van ‘n sonsondergangfoto. In die onderskrif word gesê die “sonsondergang oor die canyon is ‘n ondervinding wat nie gemis moet word nie.”

Die foto is egter nie die van Blyderivierspoort nie, maar een van die Grand Canyon in die VSA.

Teen die laai van hierdie artikel aanlyn het Paulse nog nie aanduiding gegee wat hulle optrede teen die webblad gaan wees nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Bertus de Bruyn

Bertus de Bruyn is based in Mbombela, Mpumalanga. De Bruyn has been employed by Caxton since 2009. After a short sabbatical of two years, De Bruyn is back at the place he called home, Caxton, at Lowveld Media. He is currently the digital content manager, but has 14 years of journalism skills, news editor, and acting editor duties behind his name.
Back to top button