
Laerskool Lydenburg het verlede Vrydag, 18 Oktober, weer vir oneindige vreugde en opwinding gesorg toe die skool sy jaarlikse Lentedag-viering gehou het.
Die geleentheid was soos elke jaar s’n ‘n groot sukses en het verseker dat die leerders en personeel bymekaargebring word vir ‘n dag vol prettige aktiwiteite, lag en samesyn.
Een van die vernaamste besienswaardighede was die indrukwekkende waterglybane wat oor die skoolterrein uitgetroon het.
Kinders van alle ouderdomme het gretig tougestaan om die bane aan te durf en teen die gladde hellings af te jaag om in die verfrissende poele aan die onderkant van die baan te plons.
Hulle opgewondenheid was tasbaar, met gille van vreugde wat deur die dag weerklink het.
Lees ook: Krag van vergifnis haar redding, getuig Yolande Korkie in Lydenburg
Benewens die waterglybane het ‘n verskeidenheid springkastele vir eindelose vermaak gesorg.
Die kinders het hulle gate uit geniet en gespeel, en die hele atletiekveld is omskep in ‘n feestelike atmosfeer, wat die kinders aangemoedig het om aktief te wees en die dag met oorgawe te geniet.
Die weer het pragtig saamgespeel na verlede week se koue dae. Vir die leerders is dié dag iets om na uit te sien.
Die bokskryt was nog ‘n hoogtepunt van die dag, wat ‘n unieke kinkel aan die tradisionele springkasteel gebied het.
Oor die algemeen was Laerskool Lydenburg se Lentedag ‘n heerlike viering van die vreugde van kleinwees.
Die kombinasie van opwindende aktiwiteite, heerlike kos en die gelag van die kinders het weer eens ‘n onvergeetlike ervaring vir almal betrokke geskep.
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!





