Gedenkdiens vir Herbst-gesin bring troos na tragiese Schoemanskloof-ongeluk
’n Gedenkdiens is Saterdag, 23 November, vir die Herbst-gesin in Johannesburg gehou.
“Die dood is nie ‘n muur waarin ‘n mens vasloop nie, maar eerder ‘n deur. Dit is die deur wat lei na die ewigheid.”
Dit was Saterdag, 23 November, die bemoedigende boodskap en trooswoorde van past. Hennie Swart van die Shofar Kerk in Johannesburg tydens die gedenkdiens vir die vyf lede van die Herbst-gesin wat op 24 Oktober in ‘n ongeluk in die Schoemanskloof dood is.
Pieter (39), sy vrou, Chantelle (35), en drie van hulle dogters, Mienke (13), Kara (9) en Anzelle (4), is op slag in die ongeluk naby die Indabushe Eco Lodge dood toe hulle in ‘n ongeluk met ‘n vragmotor reg van voor betrokke was.
Lees ook: 5 van jong gesin in gru-ongeluk op Schoemanskloofpad uitgewis
Die enigste oorlewende, Amoné (12), is na die ongeluk in die Milpark-hospitaal vir ernstige beserings behandel. As gevolg van die trauma waaraan sy blootgestel is, het die familie eers ‘n ruk gewag voordat hulle haar die tragedie meegedeel het.
Die gedenkdiens is by die Roosevelt High School gehou. Swart het uit Jesaja 43:1-7 voorgelees. “As jy deur die water gaan, is Ek by jou; en deur die riviere – hulle sal jou nie oorstroom nie; as jy deur vuur gaan, sal jy jou nie skroei nie, en die vlam sal jou nie brand nie. Want Ek is die Here, jou God, die Heilige van Israel, jou verlosser.”
Lees ook: Outcry over unsafe roads after horrific Schoemanskloof accident claims 5
Met dié trooswoord van vers twee en drie het hy waarskynlik vir Amoné die versekering gegee dat sy, ten spyte van die hartseer en verlies in haar gesin, steeds kosbaar is in die oë van God.
LEES OOK: Accident on N4 between Machadodorp and Mbombela claims five lives
Gerty Herbst, Pieter se ma wat in Mbombela woon, sê dit is steeds moeilik om te verwerk. “Maar die lewe gaan aan.”
Amoné bly nou by nabye familie in Johannesburg en gaan tot ten minste die einde van 2025 by Leeuwenhof Akademie, waar haar twee sussies ook leerders was, aanbly tot sy gr. 7 voltooi het. Leeuwenhof het ook op 6 November ‘n gedenkdiens vir die drie sussies by die skool gehou.