Local news

Ondersoek teen Mbombela-hoërskool se sportspesialis sal in 2025 hervat word

Die ondersoek sal wanneer die skole heropen en die rekords weer aan die ondersoekers toeganklik is, hervat word.

Die onafhanklike ondersoek na die beweerde oortredings van Hoërskool Nelspruit (NHS) se voormalige direkteur van rugby, Hennie Skorbinski, sal in 2025 hervat word.

Skorbinski, wat in Oktober skielik van sy pos by dié skool bedank het, word ondersoek ná bewerings van wanvoorstellings in NHS se naam aan die lig gekom het.

LEES OOK: Mbombela-skool se sportspesialis bedank ná gerugte van onreëlmatighede

Volgens die beheerliggaam se voorsitter, Louis Snyman, is ‘n onafhanklike ouditfirma aangestel om die aangeleentheid te ondersoek, en versoek om aanbevelings te maak ten opsigte van moontlike verdere stappe wat deur die beheerliggaam geneem kan word. Dit is daarom op hierdie stadium nie bekend of Skorbinski krimineel vervolg gaan word nie.

Aangesien die skool ‘n nasien-sentrum vir matriekvraestelle is, het dit reeds op 28 November vir alle personeel gesluit en gevolglik is die ondersoek nog hangend. Snyman het bevestig dat die ondersoek dus eers hervat kan word wanneer die skole heropen en die ondersoekers toegang tot rekords en die skoolperseel het.

“Aangesien die ondersoek nog hangend is, sal dit nie op hierdie stadium raadsaam wees om kommentaar te lewer of opinies uit te spreek nie. Die beheerliggaam het besluit om te wag op die uitkoms van die ondersoek om alle relevante feite in ag te neem, voordat daar op verdere stappe besluit sal word,” het hy gesê.

Die beheerliggaam het voorheen gesê dat hulle verbind bly tot die “verantwoordelike en onkreukbare hantering van die finansies en ander take wat onder ons beheer val, asook die trotse handhawing van die etos van Hoërskool Nelspruit,” en dat enige vorm van oneerlikheid en wanvoorstelling van enige aard deur ‘n verteenwoordiger van die skool ten sterkste veroordeel word.

“Ons verseker die gemeenskap dat die aangeleentheid met die nodige dringendheid, sorg en deursigtigheid hanteer word. Sodra die verslag en aanbevelings van die ouditfirma ontvang word, sal daar oor verdere stappe besluit word,” het die beheerliggaam gesê.

“Voorlopige aanduidings is dat hierdie onreëlmatighede buite skoolverband plaasgevind het. Indien die bewerings wat die ronde doen waar is, is dit baie moeilik, indien nie onmoontlik, om sulke bedrieglike optrede te voorkom. Die beheerliggaam het ondertussen ons eie reëls en prosesse nagegaan en bevind dat al die nodige wigte en teenwigte in plek is.”

Skorbinski het voorheen vir privaatheid vir hom en sy gesin gevra, en het nie uitgebrei oor wat presies die toekoms vir hom inhou nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Bertus de Bruyn

Bertus de Bruyn is based in Mbombela, Mpumalanga. De Bruyn has been employed by Caxton since 2009. After a short sabbatical of two years, De Bruyn is back at the place he called home, Caxton, at Lowveld Media. He is currently the digital content manager, but has 14 years of journalism skills, news editor, and acting editor duties behind his name.
Back to top button