Só word ‘n mens behoorlik oud
Tannie Marie het verlede Saterdag, 14 Desember, haar 101ste verjaardag gevier. Sy skryf haar hoë ouderdom aan harde werk en die Here se genade toe.
Op 101 skryf tannie Maria Erasmus (née Schutte) haar hoë ouderdom aan harde werk en die Here se genade toe.
“Ons loof en prys die Here elke dag vir haar,” sê haar jongste dogter, Wilma Lubbe, wat haar as ‘n warm mens vol opregte liefde beskryf.
Tannie Marie, soos sy deur almal wat haar ken genoem word, is op 14 Desember, 1923, op Lydenburg gebore en het op die plaas Waterval 50 grootgeword. Net meer as ‘n eeu later woon sy steeds in die Laeveld by Wilma en haar man, André, in Mbombela.
tannie Marie op 99-jarige ouderdom twee groot beroertes gehad het wat haar bed- en rolstoelgebonde gemaak het, het Wilma en André besluit om self na haar in hulle eie huis om te sien.
Alhoewel die versorging intensief is, sê Wilma hulle sou dit nooit anders wou hê nie.
“Jou hele lewe is on hold, maar die wete dat sy hier onder jou dak is en jy kan seker maak dat sy al haar kos, medikasie en water gekry het, dat sy reg lê en dat ‘n mens nog aan haar kan vat en druk en af en toe ‘n glimlag met ‘n paar woorde kan kry, maak dit vir jou alles die moeite werd,” sê sy.
ALSO READ: Christmas comes early once again for Oranjezicht
Wilma sê haar ma het geen pyn nie en sy is genadiglik in ‘n baie goeie toestand.
“Die belangrikste van tuisversorging is dit moet in jou hart en hande lê, want dit is ‘n onbaatsugtige, opofferende liefdeswerk. Ons dank die Here elke dag vir Sy groot genade oor haar,” sê Wilma liefdevol.

‘n Leeftyd vol herinneringe
Tannie Marie, wie se hande tot op 99 vir niks verkeerd gestaan het nie, het haar skoolloopbaan aan die Laerskool Lydenburg begin, waarna sy haar hoërskoolloopbaan aan ‘n huishoudskool in Lagersdrif voltooi het. Die ou skoolgebou staan volgens Wilma vandag nog.
Die Schuttes was gemeentelede by die Lydenburgse Moedergemeente. Daar het tannie Marie en haar drie jonger broers, Gideon, Stoffel en kleinboet Hannes (op 84 haar enigste oorlewende broer) hul vriendekring gevestig.
Na skool is tannie Marie weermag toe in Pretoria. Na afloop van haar militêre opleiding word sy weens haar agtergrond in huishoudkunde by wat vandag as die Chris Hani Baragwanath Akademiese Hospitaal bekend staan geplaas.
Daar het sy opleiding ontvang om gespesialiseerde diëte uit te werk vir pasiënte met spesiale behoeftes of siektestoestande. Sy het ook self die kos voorberei en seker gemaak dat elkeen sy optimale voedingstowwe inkry.
“Dit was haar passie in die lewe om almal te versorg, veral minderbevooregde mense,” sê Wilma.
In 1948 trou tannie Marie met die liefde van haar lewe, Willem Marthinus Erasmus. Sewe pragtige kinders is uit die huwelik gebore en vandag spog tannie Marie met 16 kleinkinders en 22 agterkleinkinders.
Voor die beroertes haar stem gesteel het, sê Wilma was tannie Marie lief vir lag. Sy was komies en skerp met woorde – skynbaar nog ‘n geheim van jonkbly.
sy nie meer veel kan praat nie, sê Wilma is tannie Marie se brein nog helder en reageer sy nog mooi op alles.
Sy het nog tot in haar 90’s graag saam op die trekker landerye toe gegry om te help met die macadamiaboerdery. Een van haar gunstelingaktiwiteite was om te help neute kraak en afdop.
Tannie Marie het in haar 90’s haar grootste mediese reuse oorkom. Op 93 ondergaan sy ‘n skouervervanging, ‘n jaar later herstel sy van ‘n ses uur lange rugoperasie, waarna sy haar kierie weer regop kon hou, en op 96 genees sy volkome van ‘n gebreekte voet nadat ‘n koelhouer op hom geval het. Blykbaar het die dokter Wilma-hulle op die ergste voorberei, want ou been genees nie sommer nie. Maar, sê Wilma, deur die Here se genade het die voet volkome genees.

Hoe voel 101 jaar?
Om die prestasie van ‘n 101ste verjaardag ten volle te waardeer, moet ‘n mens ‘n paar geskiedkundige gebeurtenisse in ag neem. Gedurende tannie Marie se lewe het Wall Street inmekaar getuimel, het die Tweede Wêreldoorlog plaasgevind en is die Berlynmuur gebou en weer afgebreek, JFK is vermoor, die mensdom het vir die eerste keer op die maan geland en die Koue Oorlog is begin en beëindig. Die rekenaar, die internet, Google, Facebook en die iPhone is ook geskep. Die Europese Unie is in 1993 gestig, in 2001 vlieg Al Qaeda twee gekaapde vliegtuie in die Amerikaanse Twin Towers vas en sowat 19 jaar later verander die Covid-19-pandemie die wêreld onherroeplik.
Tannie Marie mag blykbaar ook nie meer met LEGO’s speel nie, want volgens die verpakking het dit ‘n ouderdomsgeskiktheid van twee tot 99.


