Nog geen inhegtenisnames ná moord op Lydenburg-pa
JP Grobler het tydens die aanval sy seuns en skoonpa onverpoosd probeer beskerm.
Die owerhede is steeds op soek na ses onbekende mans wat glo verantwoordelik is vir die moord op ‘n 41-jarige pa van Lydenburg, Juan Pieter ‘JP’ Grobler.
Die aanval en uiteindelike moord het die aand van 29 Desember by die Tubatsedam, naby Steelpoort, plaasgevind
Grobler, sy skoonpa, Koos Walkinshaw, en Grobler se twee seuns, Tiaan (13) en Riaan (9), het by dié dam visgevang. Die dam is skaars 4 km van sy vrou, Ingrid, se ouerhuis af.
Die viermanskap is net na 18:00 die betrokke Sondag deur ses gewapende mans aangeval. Volgens verslae was die aanvallers met gholfstokke en assegaaie gewapen.
Lees ook: Tragiese skietdood van 20-jarige laat Lydenburg-gemeenskap in skok
Na wat verneem word het Ingrid ‘n oproep van Riaan gekry waarin hy histeries aan sy ma verduidelik het dat hulle aangeval word. Hy het glo oor die foon geskree: “Mamma, Mamma, kom help! Ons word aangeval!”
Grobler, wat deurentyd sy seuns en skoonpa probeer beskerm het, is met gholfstokke geslaan, met die assegaaie gesteek en met ‘n klip teen die kop gegooi.
Volgens polisieverslae kon hy tot by sy Ford Ranger kruip en sy vuurwapen in die hande kry. Hy het ‘n skoot afgevuur en daarin geslaag om die aanvallers te verjaag.
Grobler het met sy seuns en skoonpa na die nabye Lannex-myngebied net buite Steelpoort toe gejaag vir hulp.
Walkinshaw moes egter die stuur oorneem na Grobler al hoe swakker geword het. ‘n Erg beseerde Grobler is later in sy voertuig dood verklaar.
Lt.kol. Stephen Thaken, die Limpopo-polisiewoordvoerder, het intussen bevestig dat niemand nog in hegtenis geneem is nie.
Grobler is op 3 Januarie vanuit die AGS Kerk in Steelpoort ter ruste gelê.
Ingrid se begrafnisbrief is tydens die diens deur past. Johan Venter voorgelees. “Jy het tot die einde ons kinders se lewens beskerm. Ek weet in my hart dat jy dit uit liefde gedoen het en sal jou ewig dankbaar daarvoor wees,” het sy geskryf.
Dorp betoon hulde aan geliefde sakeman
Die Groblers besit TGW Construction Mining and Supplies op Lydenburg.
Hulle is ’n bekende en geliefde gesin op die dorp. Verskeie inwoners het op Facebook hul medelye aan die Grobler-gesin betoon.
Die Lydenburg DA het by monde van sy raadslid, Spiros Couvaras, gesê dat die party die moord veroordeel.
“Die feit dat die seuns die tragedie moes beleef, sal hulle die res van hulle lewens moet saamdra. Ons is dankbaar dat die SAPD doen wat hulle kan, maar ons is van mening dat ’n spesiale taakmag aangestel moet word om te help met die ondersoek.
Dié is ’n misdaad van haat. Die aanvallers moet aangekeer word en boet vir die sinnelose moord op ’n jong pa. Ons dra die gesin met liefde in ons gebede op. As die party in enige opsig kan help, moet die gesin nie huiwer om die DA te kontak nie.”
Laerskool Lydenburg, waar beide Tiaan en Riaan leerders is, het ’n spesiale boodskap aan die Grobler-gesin opgedra: “Die Kwaggas van Laerskool Lydenburg wil hul innige meegevoel aan Tiaan en Riaan Grobler betuig met die tragiese afsterwe van hul pa, JP.
Hy was ’n betrokke pa, wat baie in ons skoolgemeenskap gemis gaan word. Tiaan en Riaan, ons Kwaggas is daar vir julle en dra julle as gesin op aan Ons Vader.
Die Grobler-egpaar sou dié jaar hul 20ste huweliksherdenking gevier het.
