Local news

Geliefde Witrivier-inwoner word by gedenkdiens vereer

Oosthuizen was ’n resident-ingenieur wat vir die Mpumalanga-regeringskompleks, die R40-projek en verskeie ander landmerke in die Laeveld verantwoordelik was.

Lammie Oosthuizen (80), ‘n bekende inwoner van dié dorp al sedert 1956, is op 16 Januarie ná ‘n kort siekbed oorlede. Lammie was ‘n ingenieur, pa, eggenoot en staatmaker in die gemeenskap en die Laeveld.

As resident-ingenieur was hy verantwoordelik vir onder andere die Mpumalanga-regeringkompleks, die R40-projek en verskeie bakenprojekte in die Laeveld en elders. As kontrakteur was hy veral bekend vir die oprigting van druktorings soos dié in Witrivier en Malalane, wat vandag as bakens in die Laeveld uittoring.

Sy ma, Susan, was die katalisator vir die oprigting van Rustig Ouetehuis op Witrivier, terwyl sy pa, Oos, die hoof van die verkeersafdeling was.

Lammie was vir baie jare die voorsitter van die beheerraad van beide Laerskool Witrivier en Hoërskool Rob Ferreira, en ook die bestuursraadvoorsitter van die Witrivier Stadsraad. Saam met sy geliefde vrou, Annie, was hy instrumenteel in die totstandkoming van die Flamboyantskool, waar hy onder meer vir die verkryging van die perseel deur die Transvaalse Provinsiale Regering gereël het, asook met pro bono-restourasie van die perseel.

LEES MEER: Rogue Mbombela lion finds his happily ever after in the Kruger

Lammie laat ons agter met waardering vir ‘n vol lewe en ‘n gemeenskap wat sy impak ervaar en waardeer het. Hy was ‘n bron van kennis en kundigheid oor die ou Laeveld en sy mense. Hy word oorleef deur sy broer, Willie, kinders en kleinkinders, Lammert, Ronel, Sofia, Isabel, Susanna, Justin, Annalie, Antonie, Adrienne en Andrew, en vele van hulle vriende vir wie hy ook soos ‘n pa was.
‘n Informele gedenkdiens is vandag, 24 Januarie, om 15:30 by die Premier Hotel The Winkler gehou.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button